Vreemde Jesus op vreemde plekke

Die ewigheid of oneindigheid van Christus is net te veel om oor na te dink. Hierdie Mens wat uit ‘n vrou gebore is, wie se pa ‘n skrynwerker was, staan voor ons geestesoog in die stofstrate van Jerusalem. Hy was ‘n plattelander en het seker soos een gepraat ook. Tog is Hy al van alle ewigheid af saam met die Vader, kom Hy om die Vader bekend te stel. “As julle my gesien het, het julle die Vader gesien.” Die Vader wat alles tot stand gebring het en ook hierdie aarde in stand hou.

Dis dalk waarom ons eerder van die Jesus in die hemel hou, die skoon rein Oorwinnaar. Ons gebede is maklik tot Hom gerig en ons sing die mooiste liedere oor Hom. Dis egter die skewe fokus op hierdie beeld van Christus wat maak dat ons die Christus tussen ons nie meer raak sien nie. In Mat 25:31-46 sê Jesus dat terwyl mense vandag na Hom soek en Hom nie vind nie, kan dit dalk wees dat hulle op die verkeerde plek soek. Jesus bevind Hom vandag tussen hulle wat dors is en honger kry. Hy is in stinkende tronke en in vuil plakkerskampe. Wanneer ek Hom daar vind, maak ek Hom sigbaar vir die mense rondom Hom. Hy het Hom eens op ‘n tyd kom ledig van sy Godheid toe Hy mens geword het. Hy doen dit vandag nog. Ons soek God in ons wêreld. God is in mense binne ons wêreld. Ons sal mense weer moet begin raaksien.