LIEFDESKRAG

‘n Mens staan soms verleë wanneer jy oor seker sake nadink. Veral wanneer jy die mens se sonde in oënskou neem. Moet jy geweld teen hierdie mense gebruik of nederige liefde. Besluit altyd op nederige liefde. Wanneer jy eens en vir altyd daarop besluit het, sal jy die hele wêreld daaraan kan onderwerp. Liefdevolle nederigheid is ontsettend kragtig, die kragtigste van alle dinge. Daar is niks soos liefdevolle nederigheid nie. (Vertaal uit The Brothers Karamazov, Dostoevsky p296)kruis

Kan ons in hierdie laaste week van Jesus se pad na die kruis dalk vir ‘n oomblik anders dink oor die kruisgebeure. Kan ons wegkom van die bykans leë uitlatings soos; “Hy het aan die kruis vir my sondes gesterf”, “Hy het vir my sondes betaal” of “Aan die kruis het Hy in my plek gely.” Al hierdie uitsprake word gemaak buite die “self”. Dit bly iets wat op ‘n afstand gebeur. God het iets gedoen en ek probeer uit die verte dit weer raak te sien. God het inderdaad iets gedoen wat die mens nie kon doen nie. Net die God-mens kon die pad van die kruis loop.

Indien ons die Bybel reg hoor dan het ons saam met Christus daar gehang (Rom 6:5-Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.) Hierdie misterie verstaan ons nie. Dit moet met die geloofsoog gesien en met die hart gegryp word. Die bedoeling van die kruisgbeure is nie om tot verstaan te kom nie, maar tot omvorming.

Omdat dit in God met my gebeur het, is die omvormende krag daarvan vir my waar. Hierdie krag is die omvormende selfopofferende krag van God. Hierdie liefdes-krag demonstreer Hy aan die kruis, in Christus, in ons. Hierdie ontsettende, ontstellende krag van God het nie met die skepping sigbaar geraak nie, maar juis aan die kruis toe Hy Homself geledig het – Kallistos Ware (sien Fil 2:6-8).

Dit is hierdie liefdeskrag wat Jesus demonstreer deur in die aangesig van die ergste geweld nie met geweld te wil reageer nie, maar juis sy liefde te openbaar. “Vader vergewe hulle…” Dit is ons uitdaging, om deur hierdie krag omvorm te word om in alle omstandighede, selfs in die aangesig van die mees brutale ongeregtigheid met God se liefde te reageer. Dit is net hierdie liefde wat ons omvorm en ons gemeenskap kan omvorm.

Mag jy ‘n geseënde Pase beleef.

DIE OPWINDING VAN PAASFEES

Paasfees lê agter ons en al wat ons oor het, is afgemerkte paaseiers in die winkels en ekstra kilo’s om af te skud. Dit is dalk nou ‘n goeie tyd om oor die Paasfees te reflekteer. Uit Frankryk berig my dogter, Hesta, soos volg oor die Paasgebeure by Taize (Gaan kyk by http://www.taize.fr/en_article12302.html ): “Donderdagaand voor Goeie Vrydag het al die broers gedurende die diens mekaar se voete gewas en ook die van die kindertjies wat in die kerk was. Vrydag was daar in die oggend ‘n diens. Die middag, so voor 3 het ek kerk toe gegaan en gaan bid. Om 3 uur het hulle die klokke gelui, alles by Taize het stil geword. Die aand was daar meer as 5000 mense in die kerk. Ek moes later vir hulle sê dat, hier is nie meer plek nie en dat hulle na die tent buite moet gaan. Daar is die aand met die kruis om die kerk geloop en dis mos maar altyd mooi”.

Ek wonder oor die opwinding, wat ek net met die lees van haar e-pos bespeur en ook met die luister op die internet. Die gesekulariseerde Europese jeug wat in massa na Taize stroom om daar God in stilte te gaan ontmoet. Dalk is dit ‘n druppel in die emmer. Hulle kan net ongeveer 5000 jongmense per week akkommodeer. (Maar, dit is van Maart tot Oktober ‘n konstante stroom van 5000 jongmense per week.)

In Suid-Afrika is daar jaarliks die uittog van duisende Zioniste na Moria net buite Pietersburg om ook daar iets van die Paasgebeure te beleef. Ons kerke (gereformeerd) is natuurlik gedesentraliseerd en daarom ken ons nie regtig so ‘n massasaamtrek oor die Paasnaweek nie. Ek het wel in Egipte beleef dat t.s.v. verskeie kerke reg oor Kairo, daar ook sulke massabyeenkomste by die kerke is. In so ‘n mate dat lidmate buite om die kerke moet sit en op TV die dienste moet volg (Vrydagdiens 08:00 – 17:00!).

Ons moet egter eerlik wees met onsself. Paasfees is nie regtig ons groot Christelike fees nie. Ons gaan met Kersfees ook see toe, maar daar maak ons moeite met Kersdienste op die strand en om tog saam met die familie in die kerk te kom. Nou moet ek erken, ek het hierdie jaar op TV-nuus verskeie Paas-opvoerings gesien. (Is daar dalk ‘n oplewing wat Paasfees betref?)

Kan dit wees dat ons onbewustelik terug deins vir die skrikwekkende van die deel van ons geloof: God wat aan ‘n kruis sterf (soos Luther dit gestel het). Ons Protestantse kruise is immers leeg, Hy het opgestaan, Hy hang nie meer aan ‘n kruis nie.

Tog wonder ek of ons nie Christus weer terug op die kruis moet plaas nie, sodat die lydende God ons met ons eie broosheid kan konfronteer en ons in ons eie lyding kan troos. Victor Frankel het gesê dat die lewe sinvol raak wanneer ek my lyding sinvol beleef. Dit voel vir my asof ons lyding ten alle koste wil vermy en wil ontken, so asof daar in ons geloof nie ruimte vir lyding en swaarkry is nie. Dalk kan ons met ‘n skuif in fokus, terug na die lydende God, weer sin in ons eie lyding ontdek. Dit kan goed wees indien ons die lyding van Christus oor die Paastyd herdenk. Dit kan goed wees indien ons weer opgewonde kan raak oor Christus se lyding.