Die dag toe die Dominee saam met die Filosoof en Priester gekuier het

“Kom in, sit die wyn daar. Ons is besig om te vas tot en met Kersfees en ek weet nie of ons mag wyn drink nie”, groet die Filosoof die Dominee. Daar word uitgevra, wyl vir die Priester gewag word. Hy gaan vanaand die huis seën. Teen die kaggel staan die ikone van Christus Pantokrator of dan Al-Skepper, die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan en die Opstanding. Die kerse voor die ikone is aangesteek.

Daar word hartlik gegroet wanneer die Priester arriveer. Hy is hier om Sondag die liturgie by die Grieks-Ortodokse Kerk in Afrikaans te lei. Die droom is om die ortodoksie in Afrikaans te vestig. “Nee, ons mag wyn drink, maar kry eers Basilie vir die seën van die huis”, verklaar hy. Almal help om die tafel met die benodighede reg te skuif. Daar is ‘n kers, kruis, heilige water en olie. Hy trek sy gewaad aan, dit is ‘n plegtige geleentheid. Die Dominee kry die opdrag om die wierook (cencer) vas te hou. Na die seremonie afgesluit is, eindig hy met ‘n gebed om die huis te bewaar en die Here se seën daarop te laat rus.

Die kerk was in die tyd van die Nuwe Testament nooit groot gewees nie, verduidelik die Priester. Tog was dit ‘n kragtige kerk wat met Konstantyn se bekering al 10% van die bevolking uitgemaak het, voeg die Filosoof by. Die Dominee wys daarop dat daar skrywers (Scott Hahn en Mike Aquilina)  is wat  meen dat meer as die helfte van die bevolking Christene was. Die antieke kerk het dus 33 miljoen aktiewe lede gehad. Dit was Christene wat deur die mistieke belewenis van God gegryp was. Die kerk was één en die hoogtepunt van die week was die samekoms om die Misterie – soos wat die Nagmaal bekend gestaan het – te herdenk. Uit Hand 13:2 wil dit ook blyk dat dit ‘n liturgiese diens was (En terwyl hulle besig was om die Here te dien [letterlik liturgie] en te vas….) Hier by die Filosoof se huis word die liturgie elke Sondag in Afrikaans gelees. Daar is nie ‘n voltydse priester nie.

Daar word geteug aan iets Christelik (soos Dana Snyman sou gesê het), wanneer die Filosoof verklaar: “Die Protestantisme is besig om voor die sekularisasie te swig en sal in die toekoms ophou bestaan.” “Wat bedoel jy?”, vra die Dominee, duidelik ongemaklik met die onderwerp. Hy verduidelik: “Die protestantse kerke is besig om al hoe meer kompromieë met die wêreld te sluit. Hulle probeer om met die wêreld te kompeteer en is besig om hulle simbole in te ruil vir wêreldse simbole. Die kerk lyk soos die wêreld en die wêreld soos die kerk.”

Die Priester luister na die gesprek, maar reageer nie. Die dominee dink aan kerkgeboue wat soos teaters binne lyk, leraars wat al hoe meer soos motiveringsprekers klink, musiek waarin nie meer onderskei kan word of dit kerklike musiek of sekulêre musiek is nie en lidmate wat so verstik in die verbruikersmentaliteit dat hulle Sondae van een gemeente na ‘n ander loop om na nog iets te soek wat hulle nie by hulle eie gemeente kry nie. “Ek moet erken jy is dalk reg,” waag die dominee dit. “In die ou Noord-Transvaal voorspel ons eie kerk se mense dat daar in tien jaar van nou af net 70 van die 140 gemeentes gaan oor wees.”

Die dominee blameer Calvyn met sy sterk klem op die individu wat haarself moes losmaak van die Roomse oorheersing wat staat en kerk betref. Daardie individualisme laat lidmate nou verklaar: “Ek is die kerk, ek het die kerk nie meer nodig nie!”. Die dominee vat ‘n sluk van sy wyn en sug. Hy dink aan die liturgieë wat hy al by verskillende ortodokse gemeentes bygewoon het, die sterk klem op die gemeenskap van gelowiges, die klem op die koinonia, die fokus van die liturgie op die Drie-enige God. Hy dink aan die ontmoeting wat hy juis in so ‘n liturgie gehad het toe hy jare gelede in die woestyn in ‘n klooster oorgebly het. Daar het hy sonder dat hy dit besef het, ‘n aanraking deur die Gees van die lewende God gehad. Is dit wat hom telkens na hierdie “moeder” van hom laat terugkeer?”

“Die ortodokse kerk is inderdaad ons moeder”, sê die Priester nou. “Daar was tot en met 1045 net een heilige, katolieke, Christelike kerk nl. die Ortodokse kerk. Luther het probeer om met sy reformasie die kerk weer terug te bring na haar wortels toe, terug na die moeder toe wat op daardie stadium amper vergete in die Ooste bly voortleef het.” Die dominee onthou die gesprekke tussen die Duitse teoloë en die Patriarg van Konstantinopel en hoe daar op minder sake nie eenheid bewerkstellig kon word nie.

Die Priester praat verder: “Die liturgie wat ons Sondag in Afrikaans gaan vier, wat uitloop op die misterie van die liggaam en bloed van Christus, dra die gelowige die week in om ten alle tye bewustelik in die teenwoordigheid van God te leef. Omdat ons God-gerig aanbid, leef ons ook God-gerig.” “Lex orandi, lex credendi, soos ons aanbid so leef ons,” merk die Dominee op. “Dit neem jou beslis bewustelik die week in. Wanneer ek die kers voor die ikon aansteek, herinner dit my daaraan dat ek in die teenwoordigheid van God verkeer, so ook die ikon in my kantoor. Dit skep as’t ware ‘n heilige ruimte waarbinne ek my bevind,” verklaar die Filosoof.

“Vertel my eers van jou bekering,” sê-vra die Dominee aan die Filosoof. “Jy weet ek was ‘n Boeddhis, maar ek het in die stilte al hoe meer ‘n verlange begin ervaar, ‘n verlange na Christus. Ek het my bekeer van iets na Iemand. Ons het ‘n kerk gesoek en ek het my ervaring jare gelede met ons besoek aan die Priester se gemeente onthou. In my soeke het ons weer by ‘n ortodokse gemeente begin inskakel en gou tuisgevoel. Dit was egter met Opstanding-Sondag toe die Priester na die liturgie vir my ‘n Johny Walker Gold in die hand stop en verklaar ’’Christus het waarlik opgestaan’’, toe dit vir my skielik sin maak.” Die Priester lag: “Is dit wat Whisky aan jou doen?” “Keep on walking”, skerts die Dominee saam. Inderdaad, om tot verligting te kom, wanneer die Here jou in sy genade aanraak. Hierdie spiritualiteit is so aards, so eg, so deurleef.

Sondag na die Liturgie, op pad huis toe, dink die Dominee weer aan die gesprekke. Die gebed van die Priester die oggend by die Liturgie eggo in sy kop: “Want U is ‘n genadige en mensliewende God, en aan U bring ons die eer: aan die Vader, en aan die Seun, en aan die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid.”

Advertisements