Die troos wat ikone bied

mary2Ek begelei die afgelope naweek ‘n retraite vir 15 mense van ‘n NG Gemeente. Ek is aanvanklik skrikkerig want hulle het ‘n sterk “charismatiese” spiritualiteit. Ons lees die teks uit Genesis 18 (Lectio Divina), die drie besoekers wat by Abraham opgedaag het daar by die Terpentynbome van Mamre. (Kom ons hou die oë van ons hart oop vir wanneer die Here by ons verby kom.) Ek waag dit om ook die ikoon van Rublev se drie besoekers saam te bring. Ek verduidelik hoe om ikone te lees. Ikone is totaal nuut vir hulle.

Die groep is egter ontvanklik vir hierdie nuwigheid waaraan hulle blootgestel word. Sondag oggend vra een van die vrouens my watter “prentjie”, van die ma met die kind, is dit wat daar in een van die kapelletjies hang. Ek vermoed onmiddellik dat sy na Maria en die Christuskind verwys. Sy moet my gaan wys. Inderdaad is dit so. Ek verduidelik die ikoon. Dit is Maria, die Theotokos – moeder van God of Godbarende, op haar skoot teen haar wang, die Christuskind. Ek wys op die stralekrans met die kruis in.

Dan vertel sy:

“Heel naweek is dit as of iets my na die kapel trek om hier te kom stil word. Saterdagmiddag is daar iemand wat daar sit en bid en ek wil nie ingaan nie. Vanoggend kry ek die eerste geleentheid om hier te kom sit. Ek het my eie kind vier jaar gelede verloor, dit is steeds pynlik. Maar, vanoggend hier voor die ikoon beleef ek die moeder en kind vertroostend. Ek is so dankbaar dat ek hier kom sit het. Dit het vir my troos gegee.”

Ek het eintlik nie woorde nie. Hoe verklaar mens die misterie dat sy as “charismatiese” Protestant iets beleef van die Theotokos wat haar kom troos? Ek verduidelik dat indien ons Ortodoks was, ons geen spanning met die gebeure sou gehad het nie. Maria, sy leef tog mos, tree vir jou in en bid vir jou. (Hebr 12:1 Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het,…..en :22 Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, 23die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is). Die Heilige Gees het jou hieraan kom herinner.

Ek besef dit is nie “gereformeerde teologie” nie, maar as een na ‘n naweek van stil word by die Here, ervaar dat die Here haar op ‘n besondere manier kom troos, waarom sal ek haar die troos met my teologie wil ontneem?

Advertisements

DIE KUNS VAN BIDDENDE LEES

Een manier om die Bybel te lees, is om verby die intellektuele te kan beweeg deur net te lees ter wille van dit wat die teks met my wil doen. Die teks wil my eerstens in ʼn verhouding met die Vader bring en binne die verhouding my verander om al hoe meer soos Christus te lyk. Om so te lees moet ek aanvaar dat dit ʼn spirituele teks is en dan moet ek dit biddend, wagtend, nadenkend lees.

Van die vroegste tye af het die kerk ook so gedink oor kuns. Ikone wil ʼn venster oopmaak op die hemel. Wanneer ek deur die venster stap, betree ek die teenwoordigheid van die Here. Binne hierdie teenwoordigheid word ek verander. Ikone word dus “gelees” met die doel om my te laat word wat ek in Christus is.

ʼn Moderne ikon-skrywer, He-Qi, maak van die kunsvorm gebruik om Christus aan die Chinese bekend te stel. http://www.heqigallery.com/   Kyk nou maar na sy ikon van die Emmausgangers uit Lukas 24:13-35. Om He-Qi se “teks” te lees, moet jy eers die verhaal uit Luk 24 goed lees en bestudeer. Nou kan jy met daardie teks na He-Qi se “teks” beweeg. Kom ons lees dit saam, biddend, nadenkend met die wete ons word ingetrek in die teks om ook soos die Emmausgangers tot ʼn ontmoeting te kom wat omvormend in my lewe inwerk.

Christus is aan tafel saam met die twee. Let op, Jesus is kaalvoet. Die “teks” wil vir ons vertel dit is heilige grond, hier gaan ʼn ontmoeting plaasvind (Eks 3:5). Die figuur in die middel is beslis Christus. Die kruis agter sy kop en op sy voorkom maak dit eksplisiet duidelik. Verder vertel He-Qi op ʼn besondere manier dat Jesus ook die Brood van die lewe is. Kyk hoe hou Hy die brood op sy bors vas. Hy is ook die Bloed, let weer op hoe die beker met wyn op die tafel vanuit Sy sy kom. Die vis is natuurlik ʼn baie ou Christelike simbool wat sê: Jesus Christus Seun van God. Daar is egter nog meer in die “teks”. Jesus is die Nagmaalstafel. Kyk hoe loop die lyne uit Hom in die tafel in. Hierdie tafel vorm ook ʼn kruis met die bankies waarop die Emmausgangers sit, kyk weer na die lyne van die bankie.

Die twee Emmausgangers hou hulle harte vas. Hulle harte het mos warm geword op die pad toe Hy met hulle gepraat het. Hulle het nou deel aan Hom, weereens die lyne van hulle arms wat in Hom in vloei en ook deel van die tafel vorm. Hier gebeur ʼn ontmoeting. Die ontmoeting verlig hulle, kyk na die refleksie van die lig op hulle klere en ook hulle gesigte. Die ontmoeting werk omvormend in op hulle. Hulle gesigte is besig om te verander. He-Qi skryf dit duidelik met die gesigte wat in twee gedeel is.

Soos reeds gesê, die teks wil ons intrek. Daarom word ons genooi om te kom aansit. Die tafel maak oop na jou toe en Christus kyk jou stip aan. Hy vra: Kom sit aan saam met my, ek wil jou hart warm maak en jou omvorm sodat jy kan wees wat jy in My is.

 

Om met ikone te bid

Om met ikone te bid is om te weet dat ek nie alleen bid nie, ander bid ook vir my. Hebr 12:1 en 22-24 “Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,” “Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.” Ek is in my stilte dus nooit alleen nie, daar is ander saam met my voor die troon van die Here.