Taize – Vreemde plek – Vreemde mense – Genadige God

Hoe beskryf ek ‘n plek soos Taize aan iemand wat nog nooit daar was nie? Dit is telkens my frustrasie wanneer ek iets van my belewenis met mense wil deel van dit wat ek by Taize beleef en ervaar het. Om te reflekteer oor die intens spirituele belewenis is op sigself reeds moeilik. Vertel ek van honderde jongmense wat op ʼn Vrydagaand 21:30 steeds in die kerk sit om in stilte by ʼn kruis te bid? Nee, die gebedsdiens is reeds verby. Hulle kon al geloop het en iets by die kafeteria gaan kry het om te drink. Hulle bly egter, opgevang in die stille teenwoordigheid van God. Paasnaweek het die laastes die oggend 04:00 die kerk verlaat.

Toe ek die laaste keer selfs  ʼn DVD aan ʼn klomp predikante gewys het en gevra het wat ons by Taize kon leer, het een opgemerk dat dit net  ʼn week-lange vakansie vir ʼn klomp jongmense is. Regtig? Duisende jongmense tussen 16 en 30, tot sesduisend oor die Paasnaweek, kom vir ʼn week na Taize om drie keer per dag in ʼn gebedsdiens te sit, een keer per dag  ʼn uur Bybelstudie by te woon en dan ook nog ʼn kleingroepbyeenkoms in die middae, en dit vir vakansie? Dan is die maaltye nog boonop eenvoudig en hulle moet werk, wat insluit skottelgoed was en badkamers skoonmaak. Dit klink nie na vakansie nie. En kan ek byvoeg, die bybelstudie is ʼn goeie stuk Bybeluitleg wat later in die kleingroepgesprek gedekodeer moet word vir die daaglikse toepassing daarvan.

Taize se gemeenskap bestaan uit 70 broers wat in eenvoud en gemeenskap saam lewe. Hulle primêre roeping is om jongmense op  ʼn ontvanklike wyse aan Christus bloot te stel. Hulle doen dit deur voorsiening te maak vir die twee grootste behoeftes wat ons jongmense vandag het, maar nooit sal erken nie. Die een is aanvaarding en die ander is stilte. By Taize is jy welkom, op die voorwaarde dat jy nie ouer as 30 is nie en indien jy jonger as 18 is, moet daar ʼn groepleier saam kom. Ouer mense word op beperkte skaal geakkommodeer, maar Taize is primêr vir jongmense. Hier kan jy jou vrae kom vrae en jou twyfel kom uitspreek. Jy gaan egter nie vermaak word nie. Die drie gebedsdienste is trouens in klassieke aanbiddingstyl met van die liedere wat met orrel begelei word, maar meestal met ʼn kleinerige sleutelbord en selfs geen begeleiding nie, behalwe die stemme van voorsangers wat ook nie sigbaar is nie. Almal sit op die grond met die fokus op God.

Die skoonheid en eenvoud van hierdie aanbidding, die stilte en die totale fokus op die aanbidding van God, werk egter op so ʼn kragtige wyse dat trane dikwels deel van die aanbidding is. In stilte werk die Heilige Gees en ontmoet ʼn genadige God mense in die oomblik. Jongmense sal onbevange na die dienste met die broers gesprek voer. Hulle is saans na die laaste diens 21:30 steeds in die kerk tot beskikking van die jongmense.

Wat leer ek by Taize?

God is ongelooflik goed. Kan ons nie meer in ons eredienste doen wat Hy in sy woord ons leer nie – Sy huis is ʼn plek van aanbidding, nie vermaak en goeie preke nie, aanbidding.

Jongmense se diepste begeerte in die geloofsgemeenskap is nie vermaak en opwinding nie, dis opregtheid en ʼn ontmoeting met God.

Stilte is vir baie erg bedreigend en ons eerste reaksie is om daarvan weg te kom of dit opnuut met iets te vul. Dit kos baie opoffering om stilte in te rig, maar daar is geen kragtiger leermeester as juis stilte nie. Daar word jy met jouself gekonfronteer en met God omvou.

Aanvaarding: Om mense onvoorwaardelik te aanvaar bly steeds my grootste uitdaging, ek dink dit is die kerk, in die algemeen, se grootste uitdaging. By Taize hoef jy nie eers te verander en dan is jy welkom nie. Jy is welkom, God sal jou op Sy tyd omvorm.

(Jong)Mense kan vir hulleself dink. Gee vir hulle die Woord onverdund en lei hulle om dit self in hulle lewe toe te pas.

Ons hoef nie mense te leer om te bid nie. Gee hulle net die ruimte. Aanbidding van God is in ons wese ingeskape.

Minder is meer.

http://www.taize.fr/en

Advertisements

DIE OPWINDING VAN PAASFEES

Paasfees lê agter ons en al wat ons oor het, is afgemerkte paaseiers in die winkels en ekstra kilo’s om af te skud. Dit is dalk nou ‘n goeie tyd om oor die Paasfees te reflekteer. Uit Frankryk berig my dogter, Hesta, soos volg oor die Paasgebeure by Taize (Gaan kyk by http://www.taize.fr/en_article12302.html ): “Donderdagaand voor Goeie Vrydag het al die broers gedurende die diens mekaar se voete gewas en ook die van die kindertjies wat in die kerk was. Vrydag was daar in die oggend ‘n diens. Die middag, so voor 3 het ek kerk toe gegaan en gaan bid. Om 3 uur het hulle die klokke gelui, alles by Taize het stil geword. Die aand was daar meer as 5000 mense in die kerk. Ek moes later vir hulle sê dat, hier is nie meer plek nie en dat hulle na die tent buite moet gaan. Daar is die aand met die kruis om die kerk geloop en dis mos maar altyd mooi”.

Ek wonder oor die opwinding, wat ek net met die lees van haar e-pos bespeur en ook met die luister op die internet. Die gesekulariseerde Europese jeug wat in massa na Taize stroom om daar God in stilte te gaan ontmoet. Dalk is dit ‘n druppel in die emmer. Hulle kan net ongeveer 5000 jongmense per week akkommodeer. (Maar, dit is van Maart tot Oktober ‘n konstante stroom van 5000 jongmense per week.)

In Suid-Afrika is daar jaarliks die uittog van duisende Zioniste na Moria net buite Pietersburg om ook daar iets van die Paasgebeure te beleef. Ons kerke (gereformeerd) is natuurlik gedesentraliseerd en daarom ken ons nie regtig so ‘n massasaamtrek oor die Paasnaweek nie. Ek het wel in Egipte beleef dat t.s.v. verskeie kerke reg oor Kairo, daar ook sulke massabyeenkomste by die kerke is. In so ‘n mate dat lidmate buite om die kerke moet sit en op TV die dienste moet volg (Vrydagdiens 08:00 – 17:00!).

Ons moet egter eerlik wees met onsself. Paasfees is nie regtig ons groot Christelike fees nie. Ons gaan met Kersfees ook see toe, maar daar maak ons moeite met Kersdienste op die strand en om tog saam met die familie in die kerk te kom. Nou moet ek erken, ek het hierdie jaar op TV-nuus verskeie Paas-opvoerings gesien. (Is daar dalk ‘n oplewing wat Paasfees betref?)

Kan dit wees dat ons onbewustelik terug deins vir die skrikwekkende van die deel van ons geloof: God wat aan ‘n kruis sterf (soos Luther dit gestel het). Ons Protestantse kruise is immers leeg, Hy het opgestaan, Hy hang nie meer aan ‘n kruis nie.

Tog wonder ek of ons nie Christus weer terug op die kruis moet plaas nie, sodat die lydende God ons met ons eie broosheid kan konfronteer en ons in ons eie lyding kan troos. Victor Frankel het gesê dat die lewe sinvol raak wanneer ek my lyding sinvol beleef. Dit voel vir my asof ons lyding ten alle koste wil vermy en wil ontken, so asof daar in ons geloof nie ruimte vir lyding en swaarkry is nie. Dalk kan ons met ‘n skuif in fokus, terug na die lydende God, weer sin in ons eie lyding ontdek. Dit kan goed wees indien ons die lyding van Christus oor die Paastyd herdenk. Dit kan goed wees indien ons weer opgewonde kan raak oor Christus se lyding.