STILTE EN DIE EGO

PotterBinne in my menswees skuil daar iemand wat konstant sy eie begeertes wil bevredig. Jare gelede, wel om eerlik te wees, soms nog steeds, staan die doodsondes in my op, (Trots, Hebsug, Wellus, Woede, Gulsigheid, Luiheid en Jaloesie). Nou egter, as gelowige, kom hulle meer vroom na die oppervlak, soos Johannes van die Kruis (24 Junie 1542 – 14 Desember 1591) hulle omskryf:
1. Trots op my eie geestelike vermoëns.
2. Hebsug – om meer geestelike ervarings te wil hê. Ek is nie tevrede dat daar dan “niks” in my geestelike lewe gebeur nie.
3. Wellus is die begeertes wat in die bewuste na vore kom wanneer ek in my stilte ingaan. Aan die ander kant weer hou my vrees vir hierdie wellustigheid my soms van my stilte.
4. Woede is die gevolg, hetsy van ‘n eerste ervaring en dan ‘n teleurstelling dat daar nie meer is nie of, ‘n ongeduld omdat dit so lank vat om iets te beleef.
5. Gulsigheid na meer maak die siel later siek. Ek wil meer geestelike ervarings hê.
6. Jaloesie staan in my menswees op wanneer ek van ander se geestelike vordering hoor en niemand prys my oor my eie geestelikheid nie.
7. Luiheid. Ek gee moed op met my geestelike dissiplines.

Wie is hierdie ander mens hier binne my? Kom ons noem dit die ego.

Die ego teer op erkenning, is self gerig en kry maklik seer. Ek dink dit is van die dood van die ego waarvan Jesus gepraat het: “Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.” (Mk 8:34–35). Die worsteling sal lewenslank met ons wees. Paulus het die worsteling geken: “Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.” (Ro 7:18–19)

Hoe kom ek los van die ego? Gelowiges wat deur lyding gaan beleef dikwels die gestrooptheid van die ego. Dit is asof die vuur van die beproewing ons soos goud suiwer. Daar is egter ook ‘n ander manier, soms ook pynlik, baie eenvoudig, maar verskriklik moeilik. Ek praat van die dissipline van stilte.

Stilte is die oefening waar ek weer in die graf van Christus in daal om telkens weer nuut op te staan. Stilte, die dissipline wat die ego te suiwer vra commitment, toewyding. Stilte behels die dissipline om daagliks minstens vir 20 min by die voete van Jesus te gaan sit. Sit regop en met jou oë liggies toe, neem ‘n gebedswoord, soos Maranatha (Kom Here Jesus) en herhaal jou gebedswoord vir 20 min. Moet niks verwag nie, jy is in die teenwoordigheid van die Heilige. Hy is besig om jou te bevry van jou ego.

In hierdie stilte is die Gees van Christus besig om my al meer in die Godsrelasie in te trek. Omvorming is onvermydelik. Ek word gesuiwer deur die beste Psigoanalis, die Gees van God. Wat is die vrug van stilte: Dit is die ontdekking van die vrug van die Gees wat vir ander sigbaar raak, waarvan die grootste die liefde is. In hierdie stille Godgervulde oomblikke plaas God afdrukke van Sy liefde op my hart en ek begin die wêreld sien soos wat Hy dit sien.

GEJAAGDHEID

Dit het bykans ‘n edel waarde geword om te kan verklaar dat jy besig is. Dit is deel van die sukses-kultuur van ons dag. Besige mense is suksesvolle mense, hoe meer jy het om te doen hoe meer kan jy doen! Daar is altyd nog iets wat gedoen moet word. Ons is besige mense

Is daar fout mee? Dokters wys daarop dat dit die oorsaak is van die siekte van ons tyd, spanning en stres met hoë bloeddruk en kolesterol as die simptome. Dit beroof ons om in die oomblik te kan leef, die vermoë om te kan stop, die koffie te kan ruik en dalk net die oomblik te kan geniet.

Donald Nicholl en Ron Rolheiser maak interessante opmerkings in hulle boek “Holiness” oor gejaagdheid. Hulle meen dit is ‘n vorm van geweld wat teen tyd gepleeg word. Ons poog om God se tyd met geweld ons eie te maak. Ons beoefen ‘n vorm van vraatsug en gulsigheid. Ons meen dit gaan oor geld, besittings, kos en drank. Dit is ‘n simplistiese manier om daaroor te dink. Johannes van die Kruis (1541-1591) het gesê dat ons oor die sewe doodsondes eerder moet vergeestelik as om dit letterlik te neem.

Gulsigheid het in ons tyd meer subtiel te make met ons begeerte om die lewe en die wêreld in te drink. Ons wil die wêreld sien, ons wil reis, elke sensasie ervaar. Ons wil op niks uit-mis nie. Ons haas ons om soveel as moontlik in te pas, hard te werk, geld bymekaar te maak om juis hierdie ervarings te kan koop en te kan bekostig. Ons maak selfs skuld daarvoor, net om nog te kan “geniet”. Ons wil ervarings hê, ervarings van sukses, status en genot.

Vraatsug werk maar dieselfde. Ons is altyd haastig want ons wil meer smaak van die lewe. Ons is bang daar gaan nog ‘n dis/geleentheid om te kan geniet, verlore.  Daarom is kits-belewenis (soos kitskos) so aangenaam. So pleeg ons geweld teen onsself, ons naaste, die aarde en in wese teen God. Hierdie haas vind ongelukkig neerslag in al ons verhoudings. In ons verhouding met God tref die gevolge van die geweld ons eie heiligheid, of dan gebrek daar aan. Ons het nie meer tyd om met God te spandeer nie. Trouens, ons beleef dit as die grootste mors van tyd om net in stilte by God te spandeer. Dit frustreer ons om enige geestelike geleentheid te vul met stilte of aanbidding. Dit moet gevul wees met ‘n lesing/preek/lofprysing, want wanneer ons besig is, is ons suksesvol.

God, lyk dit vir my, dink anders hieroor. God is ewig daarom het Hy baie tyd. Ps 46:10 Be still, and know that I am God (KJV). Ps 46:11 Bedaar en erken dat Ek God is (NAV).