Die troos wat ikone bied

mary2Ek begelei die afgelope naweek ‘n retraite vir 15 mense van ‘n NG Gemeente. Ek is aanvanklik skrikkerig want hulle het ‘n sterk “charismatiese” spiritualiteit. Ons lees die teks uit Genesis 18 (Lectio Divina), die drie besoekers wat by Abraham opgedaag het daar by die Terpentynbome van Mamre. (Kom ons hou die oë van ons hart oop vir wanneer die Here by ons verby kom.) Ek waag dit om ook die ikoon van Rublev se drie besoekers saam te bring. Ek verduidelik hoe om ikone te lees. Ikone is totaal nuut vir hulle.

Die groep is egter ontvanklik vir hierdie nuwigheid waaraan hulle blootgestel word. Sondag oggend vra een van die vrouens my watter “prentjie”, van die ma met die kind, is dit wat daar in een van die kapelletjies hang. Ek vermoed onmiddellik dat sy na Maria en die Christuskind verwys. Sy moet my gaan wys. Inderdaad is dit so. Ek verduidelik die ikoon. Dit is Maria, die Theotokos – moeder van God of Godbarende, op haar skoot teen haar wang, die Christuskind. Ek wys op die stralekrans met die kruis in.

Dan vertel sy:

“Heel naweek is dit as of iets my na die kapel trek om hier te kom stil word. Saterdagmiddag is daar iemand wat daar sit en bid en ek wil nie ingaan nie. Vanoggend kry ek die eerste geleentheid om hier te kom sit. Ek het my eie kind vier jaar gelede verloor, dit is steeds pynlik. Maar, vanoggend hier voor die ikoon beleef ek die moeder en kind vertroostend. Ek is so dankbaar dat ek hier kom sit het. Dit het vir my troos gegee.”

Ek het eintlik nie woorde nie. Hoe verklaar mens die misterie dat sy as “charismatiese” Protestant iets beleef van die Theotokos wat haar kom troos? Ek verduidelik dat indien ons Ortodoks was, ons geen spanning met die gebeure sou gehad het nie. Maria, sy leef tog mos, tree vir jou in en bid vir jou. (Hebr 12:1 Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het,…..en :22 Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, 23die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is). Die Heilige Gees het jou hieraan kom herinner.

Ek besef dit is nie “gereformeerde teologie” nie, maar as een na ‘n naweek van stil word by die Here, ervaar dat die Here haar op ‘n besondere manier kom troos, waarom sal ek haar die troos met my teologie wil ontneem?

Advertisements

4 responses to “Die troos wat ikone bied

  1. My vriend, besig om te dink en lees oor stilte in ons bymekaar wees en kom vanmiddag op hierdie vrug van jou soeke af . Ek het met groot aandag en waardering vir jou eerlkheid gelees. DANKIE en VREDE

  2. You shall not make for yourself an image in the form of anything in heaven above or on the earth beneath or in the waters below.
    Exodus 20:4

    Just because it feels good doesn’t make it right.
    Sin usually feels good.

    • In die postmoderne era waarin die kerk haarself bevind, wil lidmate hulle geloof in God Drie-enig opnuut ervaar en beleef. Veral in ons aanbiddingsgeleenthede en viering in ons erediens het daar ʼn nuwe soeke na sin en betekenis gekom. Lidmate soek nuwe rituele en simbole om die verlossingswerk van Jesus Christus nuut te ervaar en beleef. Die Algemene Sinode se tema vir hulle vergadering later vanjaar en die keuse van die ikoon van Rublev bevestig dit opnuut.

      Die begeerte om God deur kuns en simboliek te aanbid is so oud soos die Bybel. In Eks 25–32 lees ons hoe die Here aan Moses opdrag gegee het oor die bou van die tent van ontmoeting. Gaan lees gerus hoe ryklik dit alles versier was met kleure en simbole. In 2 Kron 3–6 met die bou van die tempel is daar selfs nog meer engele en beelde van beeste, vrugte en blomme. Dan is daar nog die vreemde opdrag in die woestyn om ʼn beeld van ʼn slang te maak wat sal dien as teken van hulle afhanklikheid van God. Wanneer Jesus in die wêreld inkom, bring Hy die Koninkryk van God na die mense. God regeer in die wêreld. Om hierdie gedagte vir die mense verstaanbaar te maak, gebruik Hy rituele en simbole wat eie is aan die tyd waarin Hy leef. Hy gebruik spoeg en modder in sy genesingswonders om aan te toon Hy het alle mag (Jh 9:6 en Mr 7:33). Spoeg is as magiese krag beskou (bygeloof) om jou te beskerm teen die Bose. Ons sou kon sê dat Hy die Koninkryk van God bemiddel het deur simbole en rituele wat mense goed begryp het.

      Ons het gedurende die Reformasie van baie van die simbole en rituele afstand gedoen. Alles wat net na bygeloof gelyk (geruik) het, is summier uitgegooi. So het ons van verskeie kunsvorme en veral ikone ontslae geraak. Die herontdekking van hierdie onderskeie kunsvorme sou tog kon bydra om weer ons verhouding met God deur al ons sintuie te beleef en ervaar.

      Kuns en spiritualiteit
      Sedert die vroegste tye was kuns in die aanbiddingsgebeure vir die gelowige belangrik. Kuns is ‘n manier om met die werklikheid om te gaan, om die wêreld te interpreteer, te weerspieël en te herskep. So gesien, verken kuns nie die werklikheid met kliniese, objektiewe metodes en instrumente nie, maar met die verbeelding en die materiaal tot die kunstenaar se beskikking. Wanneer die kunstenaar gekyk het, wil hy uitbeeld en ook ander laat kyk. So help hy ons om ons houding teenoor die werklikheid te toets, ons eie toestand van vervreemding raak te sien en ons eie integriteit te ontdek.

      Om kuns, in die algemeen, te waardeer vra dat daar met geduld met die kunsvorm omgegaan word. Remband se bekende “Terugkeer van die verlore seun” moet met aandag bestudeer word om al die simboliek raak te sien. Dink maar aan die twee verskillende hande van die vader wat nie sommer met die eerste oogopslag waargeneem word nie.

      Ikonografie
      Gegewe ons gereformeerde tradisie, bly hierdie kunsvorm, ikonografie, vir ons steeds moeilik om te interpreteer. Ons maak egter maklik die fout om ikonografie net van uit die hoek van die kunste te wil beoordeel.

      Die geloof van die kerk was nog altyd ʼn realiteit wat verby hierdie tydelike wêreld gestrek het. Dit is hierdie waarheid van die transendente wêreld wat nie gesien kan word nie, wat die inhoud en karakter van die ikonografie gedefinieer het. Die kerk was veral geïnteresseerd in die skoonheid van die geestelike wêreld. Met die kuns tot sy beskikking het die kerk hierdie geestelike dimensie probeer interpreteer. Die doel met die ikonografie was om uitdrukking te gee aan die heiligheid van die transendente. Die bedoeling was nooit dat dit esteties mooi vir die oog hoef te wees nie. (Ons kan dit dus nie beoordeel soos ons Rembrandt of Dali beoordeel nie.) Die skoonheid word dus nie deur die natuurlike skoonheid van die vorm bepaal nie, maar deur die subtiele inhoud. Die skoonheid van die inhoud moet die geloof dien.

      In die ikonografie is voorwerpe wat geverf word, buite verhouding tot mekaar, soos bv die groot oë en die groot koppe in die Koptiese ikonografie. Die eerste Ortodokse kunstenaars wou wegbeweeg van die realisme waarmee die antieke Egiptiese en Griekse afgodediens gewerk het. In daardie kunsvorme is gode as mense uitgebeeld. In hulle oordrewe wegstuur van kuns wat met afgodery geassosieer kon word, skets hulle die figure bykans abstrak, tweedimensioneel.

      Dit bly egter die eenvoud van dié kunsvorm wat aan die Ortodokse kuns sy bekoring verleen. Omdat die ikoon ook nie ʼn realistiese afbeelding probeer wees nie, is daar geen lig wat gereflekteer word of skaduwees nie. Die enigste lig wat uit die ikoon straal, is die lig wat van die persoon wat in die ikoon voorgestel word, of die goddelike lig van Christus.

      In die ikonografie is dit nie ’n prent of skildery waarna jy kyk nie, maar ’n storie. Die oorspronklike kunstenaar wou nie iets teken nie, hy of sy wou ʼn storie vertel. Daarom moet jy die “storie” lees en self luister wat dit vir jou wil sê. Die ikonograaf het ‘n storie geskryf. Vandag nog word daar nie gepraat van die verf van ‘n ikoon nie, maar van die skryf van ‘n ikoon.

      Ikone is soos vensters wat oopmaak op die realiteit van die Koninkryk van God. Dit maak die teenwoordigheid van God sigbaar. Alhoewel ikone afbeeldings is, is dit nie ʼn blote illustrasie of versiering nie. Dit is simbole van die inkarnasie. Die simbool bemiddel die geestelike boodskap, wat vir die oor bedoel is, nou ook vir die oog sodat dit op twee vlakke die hart aanraak.

      Johannes van Damaskus (8 eeu n.C.) het gesê ikonografie word gebaseer op die koms van Christus na ons wêreld toe. Ons redding word verbind met die inkarnasie van die Goddelike Woord. Ons verlossing word dus verbind aan aardse stof, materie. Omdat God mens geword het en onder die mense kom woon het, word die Verlosser en verlossing vir die mens sigbaar. Die ikoon gee uitdrukking aan die geloof van die “skrywer” en uitdrukking aan die misterie van die teenwoordigheid van God. Die ikoon skep as’t ware ʼn ruimte van vrede en afwagting. Dit lyk my is juis ook die bedoeling van die Sinode met die gebruik van die ikoon. Dit nooi die deelnemers uit om die teenwoordigheid van God in hulle hele menswees sowel as in die onmiddellike omgewing te ervaar.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s