Om te sterwe

Ons vrfelicitas-perpetuaa graag die vraag: “Hoe lewe jy?” Met hierdie vraag impliseer ons ‘n klomp sake, bv is jou gedrag van so ‘n aard dat ander Christus in jou lewe kan sien. Die Millenniuls (rofweg die generasie tussen 25-35) vra weer of jy elke geleentheid aangryp om die lewe te leef. Hier word veral bedoel dat jy moet reis en geniet. Beide die verduidelikings het meriete in. Natuurlik moet ons so lewe dat ander Christus in ons kan sien en, soos die cliché lui: “Twenty years from now you will be more disappointed by the things you didn’t do than by the ones you did do. So throw off the bowlines, sail away from the safe harbor. Catch the trade winds in your sails. Explore. Dream. Discover.”

Daar is egter ‘n ander vraag wat ons van wegstuur en dit is die vraag; hoe moet ek sterf? Dalk is dit ‘n vreemde vraag met medici wat ons die reg om te sterf ontneem. Dink maar aan al die (kroniese) medikasie wat jy gebruik. Terwyl ek hier skryf, lê daar ‘n lidmaat (87 jaar) nou reeds vir vyf maande in die hospitaal. Dokters hou hom aan die lewe, terwyl sy familie elke dag heen en weer pendel, want wanneer sterf hy? (Net hierdie opmerking maak die vraag na genadedood oop, maar kom ons los dit vir later.)

Hoe aanvaar ons ons eie sterflikheid? En ek bedoel dit as gelowiges wat onder alle omstandighede ‘n getuie wil wees van die lewende God. Op ‘n baie oppervlakkige noot, indien jy so seker is waarheen jy gaan wanneer jy doodgaan, waarom is jy so bang om dood te gaan? Soos Paulus dit stel (Rom 14:8) “As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” Om nie te wil doodgaan nie, kan later grens aan ‘n fobie vir siekte en dood. Die vroeë gelowiges was juis ook in hulle sterflikheid ‘n getuie van ‘n lewende God wat hulle beleef het as ‘n tasbare misterie.

Een van die mooi verhale is die rol wat die arena in die lewe van die mense van die Romeinse ryk gespeel het. Die doel van die arena, behalwe om te vermaak, was om te wys hoe reken Rome met oortreders af, hoe magtig is hul krygers en later, hoe deel ons met mense wat nie die keiser as god wil eer nie. Kartago in 203 n.C. was geen uitsondering nie. Die arena was die Superrugby van die dag maar ook die plek waar die hierdie waardes van die samelewing tentoongestel was. Die oortreders in die arena vlug van die diere wat hulle verniel, skree van pyn en trek in mekaar om die wrede dood te ontvlug.

Met die eerste martelare in die arena gebeur daar egter iets anders. Perputua en Felicitas, twee vroue, een ‘n slaaf en die ander welvarend en beide in die tronk omdat hulle Christus as Here en God bely het, en nou ook saam in die arena. Wanneer die diere op hulle afstorm, staan hulle en hou mekaar vas. Slaaf en adellike! Wanneer die diere hulle verniel, deins hulle nie terug nie, hulle beur met moeite en bloed orent om die skare en die dood in die oë te kyk. Naak en gestroop van alle menswaardigheid, hou hulle mekaar steeds vas en kus en bemoedig hulle mekaar. Intense liefde vir mekaar en intense liefde vir God, wat self ook moes sterf. Hierdie openbare belydenis met liggaam en vreesloosheid vir die dood, bring ‘n skuif in die gemeenskap en laat die kerk uit sy nate uit bars.

Die roep van die heidene op straat en in die arenas, was: “Vide! – Kyk!” Kyk hoe leef hulle. Nie luister hoe preek hulle nie, of kyk hoe aanbid hulle nie, maar kyk hoe lief het hulle mekaar en kyk met hoeveel vrede sterf hulle. Hoe sou jy vandag lewe en hoe sou jy vandag sterwe?

Jou dissipline van stilte kan jou met hierdie vrae help.

 

 

Advertisements

Oskar en die pienk tannie

Ek het gister vertel van my belewenis van enkele van die toneelstukke wat ek by Aardklop gesien het. Oskar en die pienk tannie was die ander stuk wat my aangegryp het. Dit handel oor ’n 10-jarige seuntjie, wat 12 dae het om te leef, se briewe aan God.  Sandra Prinsloo speel die seuntjie van tien asook die pienk tannie wat hom daagliks besoek.

“Liewe God, My naam is Oskar, ek is 10 jaar oud, ek het die kat en die hond in die huis aan die brand gesteek, en dis die eerste brief wat ek aan jou stuur, want ek het nie voorheen tyd gehad nie. Ek moes leer”.  So begin die toneel. Oskar het in ‘n huis groot geword waar geloof nie regtig ‘n rol gespeel het nie. Nou is hy sterwend in die hospitaal. Hy weet hy het net twaalf dae oor. Die pienk tannie raai hom aan om briewe vir God te skryf. Sy moedig hom ook aan om die twaalf dae te lewe deur o.a. sy liefde vir ‘n ander dogtertjie in die saal te verklaar en op te staan teen ‘n ander kêreltjie  wat sy meisie wil vat. Sy vermaak hom met stories oor hoe sy ‘n rofstoeier was en die lesse van die lewe wat sy daaruit geleer het.

Ouma Rosa, die pienk tannie,  begelei hom op verbeeldingryke en soms bitter snaakse wyse in sy laaste dae. Die aangryplike is die laaste brief van Oskar  wat na sy dood op die bedkassie gevind word. Hy gaan nou slaap, skryf hy, en niemand mag hom wakker maak nie, behalwe God. Ouma Rosa, wat ook gewonder het oor haar sin in die lewe, dank God dat daar iemand was, Oskar, wat haar lief gehad het en vir haar soveel omgegee het en beteken het.

Weereens wonder ek oor geloof en die sin van sterwe. Geloof en dood is in ‘n sekere sin so naby aan mekaar. Ons kan dit so maklik sinloos ervaar wanneer ‘n kind moet sterf. Miskien moet ons juis gaan kyk hoe sterf kinders. My idee is dat hulle makliker die lewe agter laat, makliker vashou aan die misterie van God. Hulle is minder begaan oor “my hartjie vir Jesus gee sodat ek tog gered kan word”.

Ouma Rosa se teologie is in ‘n seker sin verruimend. God is daar, ja so naby soos die brief. Skryf die brief, God hoor, God is die een wat jou in ‘n nuwe realiteit sal laat wakker word. Geen teologie van skuldgevoelens, straf of veroordeling oor Oskar se vrae en sy ouer se “ongeloof” nie, nee ‘n teologie gevul met omgee, liefde en sin vind in die dood van die ander.

Wat het ek by Oskar geleer? Moenie te krampagtig aan die lewe vashou nie. Leef nou voluit, al is dit net twaalf dae. Indien jy nie meer kan vashou nie, die geloof verloor het, ontspan God hou jou vas.