HOE WORD EK ‘N HEILIGE?

John of the Cross“Paulus, ’n geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en die broeder Sósthenes, aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here:” (Afr Ou Vert 1 Kor 1:1-2)

Hoe word ons die heiliges wie ons geroep is om te wees? Die vroeë kerk het geleer dat dit God is wat ons heiliges maak, in die baarmoeder van sy bruid. In die baarmoeder, die Kerk, word ons deur die Heilige Gees met die hemelse voedsel gevoed, die brood en die wyn. So lank as wat ons in die baarmoeder bly, sal ons al hoe meer word wat God ons bedoel het om te wees – Heiliges, mense wat Christus lewe.

Ons het egter ook ‘n verantwoordelikheid en dit is om in geloof hierdie status, as heiliges, aan te gryp en te lewe. Geloof is die primêre kenmerk van die heiliges. Hierdie geloof is egter nie gereserveer vir die “geestelikes” of die “super-gelowiges” wie alle vrae van die wetenskap kan beantwoord en oor die klowe van die onbekende kan spring nie. Geloof, volgens die Bybel, is om te vertrou dat God sal doen wat Hy altyd gesê het Hy sal doen. Hiervan is die belangrikste dat God tussen sy mense sal woon en dat hulle verewig met Hom verenig sal lewe.

Geloof is dus ‘n gawe van God. Hy het die sprong gemaak oor die kloof tussen die goddelike en die menslike. Ons ontdek nie Hom nie, Hy openbaar Hom aan ons. (Sien ons die openbaring? Dit is ‘n ander vraag.) Om in geloof te lewe is om gewoon die gawe van God Homself in Christus Jesus te ontvang. Iemand het gesê wanneer jy probeer om te bid, dan bid jy reeds. Om net te poog om in die geloof te lewe, is ‘n lewe in geloof.

Om in geloof te lewe vra egter dat ons eerlik moet wees. Wanneer die bose koningin in die verhaal van Sneeuwitjie vra: “Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die mooiste in die land”, vra sy dit nie om die regte antwoord te kry nie, maar om bevestiging te kry van wat sy reeds geglo het. Sy het gehoop om te hoor sy is die mooiste in die land. Wanneer die spieël egter antwoord dat Sneeuwitjie nog mooier is, wil die koningin moord pleeg!

Ons het ook ‘n spieël in ons binnekamer van die hart. Dit is die stille stem van die Heilige Gees wat ons vertel wie ons werklik is en wie ons bedoel is om te wees. Die stem van die ego wil ons egter oortuig dat ons die “mooiste” is en nie nodig het om te word wat God ons bedoel het om te wees nie. Aan die ander kant kan dit ook die ego wees wat ons wil oortuig dat ons verby enige hoop is en tog nooit iets anders kan wees nie. So ontkom ons dus aan enige verantwoordelikheid om soos heiliges te wil lewe. Die spieël wil nie met ons saamwerk in die mate dat dit moet sê wat ons wil hoor nie. Dit gee aanleiding tot woede, angs, jaloesie, al daardie simptome van die ego. Wat sê die spieël dan vir ons? Ons is gewoon nie die mooiste nie, maar egter ook nie verby die punt van enige hoop nie. Ons is gewone skepsels van God, goed geskape, maar deurgaans afhanklik van Sy genade en goedheid. Dit is hierdie gesindheid van afhanklikheid wat ons die stem van die Spieël laat hoor en daarop reageer.

Daar is moontlik ‘n tweede beginsel wat belangrik is om heiliges te word (wat ons reeds is!), en dit is om ‘n leerbare gees te ontwikkel. Enige onderwyser sal vir jou sê dat indien leerlinge net betyds opdaag vir klas, pligsgetrou werk en vra wanneer hulle vashaak, hulle die jaar minstens sal deur kom. Dit hang dus nie noodwendig van ‘n super intellek af nie. Hierdie beginsel geld ook in die Kerk, waar ons leer om heiliges te wees sodat ons dit in die wêreld kan leef. Ons kort nie soseer meer geestelike of meer gelowige mense nie. Ons kort mense wat opdaag, nie omdat dit hulle minder skuldig laat voel nie, maar omdat dit is wat mense doen wanneer jy onderrig wil word in die kuns van die heiliges.

Ons kort mens wat bereid is om te doen wat nodig is om gedoen te word, hoe eenvoudig die taak ook al mag wees. Ons doen wat nodig is, nie om noodwendig ‘n groot visie tot uitvoer te bring nie, maar omdat ons ‘n leerbare gees het en in heiligheid wil groei. Ons het mense nodig wat nie bang is om vrae te vra nie, of om met vrae gekonfronteer te word nie. Ons het mense nodig wat bereid is om leiding te aanvaar en leiding te neem, nie omdat die Kerk al die antwoorde het nie, maar omdat ons almal ‘n leerbare gees het. Heiliges is dus mense wat opdaag met ‘n leerbare gees.

Wees eerlik! Jy is gemaak om ‘n heilige te wees. Luister egter na die stem van die Spieël en ontwikkel ‘n leerbare gees deur op te daag, daar te wees en te doen wat gedoen moet word. Wanneer ons dit doen, dag vir dag, week vir week, maand vir maand en deur dit alles gevoed word met die hemelse voedsel, sal ons verbaas staan om te ontdek wie ons werklik is – heiliges gemaak na die beeld van God.

(Ek het hierdie artikel vry vertaal en aangepas uit die oorspronklike deur Vr. Richard Rene http://www.pravmir.com/how-to-become-a-saint/ How to Become a Saint Mysterion 19 June 2015)

 

Advertisements

LYDING en HEILIGE WEEK

KRUISIn hierdie Heilige Week, waar ons opnuut aan Christus se kruisdood dink, kan dit goed wees om ons theologia gloria te veruil vir ‘n theologia crucis. In eersgenoemde vind gelowiges graag vir God in sy kragtige dade van mag, wonderwerke, oorwinning en voorspoed. Dit is egter in laasgenoemde, theologia crucis, waarin ons God se grootste selfopenbaring raaksien, die lyding aan die kruis. Ons word in hierdie dae weer herinner dat om al hoe meer soos Jesus te word niks met ‘n oppervlakkige moralisme te make het nie, maar eerder om Jesus in sy lyding na te volg.

In hierdie dae van geweld, misdaad en algehele minagting van respek teenoor vroue en kinders, moet ons weer onsself herinner  dat die Nuwe Testamentiese gelowiges mense was wat lyding geken. Hulle moes vanuit die kruis sin en betekenis vir hulle alledaagse lewe vind.  Elke brief van Paulus, behalwe aan Titus, maak melding van Christelike lyding.

Dit kan vir ons eie geloofsvorming goed wees om midde in die onsekerheid en onveiligheid weg te stuur van die oppervlakkige uitlatings soos “Is God nie net ongelooflik goed nie?!” Paulus leer ons dat God juis te vinde is in lyding, swaarkry, beproewing en menslike swakheid. (2 Kor 12:7-10 Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.)

Dit is in lyding waar ons die opofferende God ontdek. In lyding ontdek ons ‘n totaal onderspeelde kant van die kruisgebeure, naamlik dat God mens geword het sodat ons gode kan word. 2 Petr 1:4 Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. “In sy eindelose liefde het Hy geword wat ons is, om ons so te maak wat Hy is” (Irenaeus van Lyons 130-202).

Lyding laat my nie triomfantlik lewe nie, maar afhanklik en nederig. Lyding laat my, anders as triomfantelisme, weg kyk van myself en ander raak sien. Dit kan sekerlik die paradoks van lyding genoem word. Wanneer ons die kruiswoorde “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mark 15:34) triomfantlik wil lees, meen ons die fokus is op Christus want die Vader is mos weg. Wanneer die teks uit die perspektief van die theologia crucis gelees word, raak God sigbaar en Christus skuif na die agtergrond. Sy lyding wys juis weg van Homself na God wat in die skepping onverstaanbaar aanwesig is. Na wie anders kan daar midde in intense lyding geroep word as juis na God.

1 Petr 4:12-13 Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.