Waaroor gaan Lydingstyd?

Ons is besig om al hoe meascensioner die ou kerklike tradisie van Lydingstyd te herontdek. Vir die vroeë kerk was dit ‘n besondere tyd van afsondering, gebed, vas en die gee van aalmoese. Die waarde van Lydingstyd vir ons as protestante is die herontdekking van geestelike dissiplines. ‘n Dissipline is iets wat jy beoefen om ‘n resultaat te sien op jou poging. Moet egter nie nou die fout maak deur te dink dat jy met jóú dissiplines ‘n resultaat by die Gees kan afdwing nie.

Dit wat in die Lydingstyd of enige ander tyd met jou gebeur, is nie die resultaat van wat jy gedoen het of nie gedoen het nie, maar die genade van die Drie-enige God. Ons dissiplines is eerder ‘n meegee aan dit waarmee God reeds in sy kinders mee besig is.

Kol 2:6 beskryf Paulus die misterie van die eenwording met God en ons wat deur die Paasgebeure ‘n werklikheid geword het. Die misterie van die eenwording met God en ons, verduidelik hy soos volg (vers 12) Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het.

Lydingstyd is ‘n tyd vir voorbereiding op die gebeure van Paassondag waar ons weer opnuut uit die dood wil opstaan. Ons vier die opstanding van Christus elke Sondag, maar in besonder op Paassondag. Ons wil met nuwe harte, nuwe voorneme en nuwe gewoontes opstaan tot nuwe lewe van geloof, hoop en liefde. Ons wil ons van hier tot by die opstanding ten diepste inoefen in die eenwording met God (2 Petr 1:4 Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.)

Moet nie die fout maak deur te dink dat Lydingstyd ‘n tyd van swaarmoedigheid moet wees nie. My geestelike dissiplines, soos vas en afsondering dien om die wolk van angs en spanning wat oor ons hang te verdryf. Ons kam ons hare, trek netjies aan en versorg ons in die algemeen beter, juis om die vreugde wat daar in die lewe is aan ander te toon. Die Son van geregtigheid moet al hoe meer uit ons straal.

Dit bring al hoe meer vreugde na mate ons agter kom hoe ons die begeertes van die liggaam en die hatigheid van die hart deur ons vas, gebede en stilte oorwin. Ons kom agter hoe ons al hoe meer verlig word deur die Lig wat in die wêreld ingekom het. Die besef van die betrokkenheid van God-drie-enig by my en in my is rede vir vreugde en opwinding.

God begeer al hoe meer my berou en belydenis, nie my angs en afgematte gees nie. Ons treur oor ons sonde terwyl ons die lewe vier omdat vergifnis reeds gebeur het. Ons kruisig die ou natuur telkens omdat ons elke more nuut kan opstaan tot die lewe wat as gawe aan ons gegee is. Lydingstyd is in vele opsigte ‘n voorbereiding vir die opstandingsfees van Christus en ook my opstanding saam met Hom, in Hom.

TEOLOGIESE GESPREK, BESINNING OOR DIE BYBEL.

Die moontlikheid om binne die gereformeerde kader en breër geloofsgemeenskap gesprek te kan voer oor teologiese sake, het inderdaad die vermoë om die kerk weer te reformeer. Dit kan verrykend wees om nuut te dink oor, nie net die opstanding nie, maar oor ‘n magdom ander sake. Ek sou graag wou sien dat daar ook gesprek gevoer word oor die funksionering van die ampte in die kerk, die gebruik van kuns in die liturgie, die liturgie self en die verstaan van die sakramente, om maar enkele sake te noem.

Om hierdie gesprek te laat vlot, sal gespreksgenote inderdaad bereid moet wees om nuut te wil dink, maar meer belangrik, ons sal ons verstaan van die Bybel heel eerste moet definieer. Die blote feit dat ons nie alles in die Bybel letterlik kan uitleef en beoefen nie, behoort ons almal te dwing om onsself eerlik die vraag oor ons verstaan en interpretasie van die Bybel te laat vra. Dink maar aan ‘n boek soos Levitikus wat veral in die Gay debat so selektief aangehaal word. Ek sou dus wou vra of ons regtig anders kan dink oor die Bybel. Sola Scripture het in die postmoderne era misluk en ons sal dit eerstens moet herformuleer.

Die Bybel funksioneer by meeste gelowiges as die bron van alle kennis, die bewysbare vir of teen alle argumente. As deel van die gesprek wil ek waag om te sê dat die manier waarop ons oor die Bybel dink, is ‘n al hoe meer afgeleide van na-Reformatoriese denke en ‘n produk van die modernisme. Selfs Luther het nie net “Sola Scriptura” bepleit nie. Ten spyte van sy geweldige klem op die Woord, het hy ook gesê: “Christus alleen” en “Geloof alleen” en “Genade alleen” en “Aan God alleen die eer”. Dit wil amper lyk of selfs Luther instinktief aangevoel dat die bewyslas nooit net vanuit die Bybel afgelei  kan word nie, of dat daar net een bron is om argumente mee te voer nie. Natuurlik was die Bybel vir hom belangrik en wou hy dat mense ook hierdie skat in hand neem. Ek dink egter daar was ‘n oor-reaksie met die Reformasie deur van ‘n klomp dinge ontslae te raak, o.a. die apokriewe boeke, maar dit is ‘n ander gesprek.

Dit is dus in ons gesprek oor die Woord waar ek sou wou teruggryp na die vroeë kerk se verstaan van die Woord en die interpretasie van die Woord. In die eerste 800 jaar van die kerk se bestaan, toe daar net een kerk was (die Katolieke kerk en hiermee word nie bedoel die Rooms-Katolieke Kerk nie, maar dalk eerder die Ortodokse of oorspronklike kerk) en nog geen verdeling of afsplitsing nie, het die kerk anders oor sy kanon gedink. Die Woord of Bybel wat ons vandag as kanon aanvaar, het nie gefunksioneer as ‘n boek om stellings mee te bewys nie, maar as deel van ‘n openbaring om mense in verhouding met God in te bind. Die Bybel, wat deur die kerk en deur die Heilige Gees tot stand gekom het, was deel van die kanons van die kerk – Kanons meervoud! Ons moet ook onthou dat die kerk vir ons die Bybel gegee het en nie anders om nie. Daarom was dit vir die vroeë kerk en sy teoloë so belangrik dat die Bybel nie los van die gemeente geïnterpreteer moet word nie. Of dan, dat die Bybel altyd in die gemeente saam met sy ander kanons geïnterpreteer word. Wat word hiermee bedoel en waarom sou ek wou pleit dat die kanons van die vroeë kerk weer bygetrek word?

Deel van die eerste kerk, waarvan ons in Handelinge begin lees, se kanons was sy kuns. Hierdie kuns sluit in ikonografie en boustyl. Daar was egter ook die heilige liturgie. Dit was die manier waarop daar aanbid moes word, hoe geloof gevier was en daar oor die kruisiging en opstaning getuig word. Die sakramente, wat uitdrukking aan die kerk se geloof en belydenis gegee het, was ook deel van die kanons. Die vroeë kerk het dus nie maar net by sy vergaderings gekom en met die Bybel gewerk asof dit die enigste bron was nie. Die vroeë kerk het met kanons gewerk. Wanneer die Woord geïnterpreteer was, was dit altyd in die kerk en teen die agtergrond van die kerk se kanons. Hierdie manier van met die Woord omgaan, het tot gevolg gehad dat daar slegs sewe ekumeniese konsilies tussen die jare 325 n.C. en 787 n.C. plaasgevind het, waarin dit vir die kerk nodig was om geloofsuitsprake te formuleer en oor te stem.

Een van die redes was juis die misterie van God. Misterie word beleef en geleef en nie bewys nie. Hoe die misterie werk was nie belangrik nie, maar wel hoe God deur die misterie in die mens werk. Hoe die werke van God in die mens waar word en in die wêreld sigbaar word, dit is wat belangrik was. Om dus die klem alleen op die letterlike, liggaamlike opstaning van Jesus te laat val, is om juis die misterie skade te doen. Die kanons was die manier waarop die kerk die menswording van God gevier het. Die kanons was nie in die eerste plek gegee as ‘n epistemiese kriterium nie, maar as ‘n viering, as ‘n geïnspireerde waarheid wat veelvlakkig en meerkleurig is. Daarom het die vroeë kerkvaders geleer, “soos jy aanbid, so leef jy” en nie,”soos jy glo, so leef jy”, nie.

Ongelukkig het ons ook in die Reformasie dit gaan vereenvoudig na Woord en tradisie. Dit is jammer dat ons in die gereformeerde wêreld dit nog verder gaan verskraal het deur aan lidmate te leer dat die tradisie deur mense uitgedink is en nie saam met die Bybel in “argumente” as “bewyse” gebruik kan word nie. Waarom sou ons vandag meen dat dit net die Bybel is wat geïnspireerd kan wees en nie die kerk se kuns, liturgie, sakramente, apostoliese gesag en biskoppe nie? Tog was dit die apostels wat die tradisies wat hulle by Jesus gesien en gehoor het, en in hulle dag beleef het, aan die gemeentes geleer het, nog voordat die Bybel op skrif was. Dink maar aan Johannes wat vertel dat alles nie in boeke geskryf kan word nie (Joh 21:25 Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.), en Paulus wat oor die tradisie praat: 2 Tes 2:15 Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur ’n brief was.  En 1 Kor 11:2 Ek vind dit prysenswaardig dat julle in alles aan my bly dink en vashou aan die oorgelewerde leer soos ek dit aan julle oorgedra het.

Ek sou dus wou vra dat ons in ons teologiese debat verby eksegese van Skrifte beweeg en ook by die kerk se geskiedenis uitkom. My aanvoeling en verstaan van die eerste 800 jaar van die kerk se bestaan, is dat daar meer is wat geïnspireerd is as wat ons in die na-Reformasie wil aanvaar. Die kerk het nie met Luther begin nie, die Protestantse Bybel wel.