Gebed – hoor God of hoor hy nie?

Daar was die week ‘n berig in die Beeld oor ‘n dominee wat sê dat gebed nie werk nie.  http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Bid-werk-nie-se-dominee-20110228

Dis altyd moeilik of goeie afleidings uit koerantberigte te maak, maar kom ons aanvaar hy is reg aangehaal. Met sommige van sy stellings kan ek saam stem. Ek vermoed dat ons lankal vanweë ons narsisme (selfliefde) die basiese verstaan van gebed verloor het. Dit gaan in meeste gevalle oor my en my behoeftes. Ek glo in God, daarom moet Hy voorsien. Hy is die groot waarmaker van my eie persoonlike begeertes en behoeftes. Hierdie tipe gebede dink ek nie, word deur God beantwoord nie.

Die vroom gebede, die wat handel oor “geestelike dinge”, wonder ek ook oor. Is dit nie maar ook selfgerig nie? Here gee my tog meer geloof, liefde, gawes, ens. Die vroeë kerk, waarna die ds. in die artikel verwys, het inderdaad anders gebid. Gebed wat in woorde tot uitdrukking gekom het, was eerstens dank en lof aan God, tweedens was dit skuldbelydenis, derdens was dit voorbidding vir ander se behoeftes en laastens stilte. Gebed moes jou in die teenwoordigheid van God bring. Gebed was die kommunikasie tussen God en mens en mens en God. Die dieptepunt van die kommunikasie was die intieme stilte.

Ek het al voorheen hieroor geskryf. Dink maar aan die kommunikasie tussen jou en jou beminde. In die spel van die liefde gaan dit altyd om die ander. Ek wil die ander behaag. Met God geld dieselfde beginsel. Gebed/kommunikasie met my Beminde gaan oor die behaag van Hom en nie oor my behoeftes nie. Die wil van God is liefde, om in sy Naam of in sy wil te bid is om in liefde te bid, om in liefde te bid is om God eerstens te wil behaag. Dit het bitter min met my behoeftes te maak, maar alles met God te make. Daarom dink ek ook dis beter om in stilte by God te verkeer as om so te bid dat God niks anders as ‘n luisteraar word nie.

Advertisements

Om met ikone te bid

Om met ikone te bid is om te weet dat ek nie alleen bid nie, ander bid ook vir my. Hebr 12:1 en 22-24 “Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,” “Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.” Ek is in my stilte dus nooit alleen nie, daar is ander saam met my voor die troon van die Here.