WAARMEE BEHOORT DIE KERK IN ONS SAMELEWING BESIG TE WEES?

maximianusDie eerste paar eeu van die kerk se geskiedenis was brutaal. Die vervolging skrikwekkend! Ek het ‘n vorige keer oor die arenas geskryf. Daar is egter so baie verhale van martelare wat hulle geloof tot die einde toe bely het. Een van die verhale vertel van ‘n legioen soldate wat van Luxor in Egipte afkomstig was. Die jaar is ongeveer 300 n.C. Keiser Diocletianus gee opdrag aan generaal Maximianus om die onrus in Frankryk onder bedwang te bring. Hy neem die spesifieke legioen uit Luxor, bekend om hulle braafheid, om Frankryk te gaan uitsorteer.

Die aand voordat hulle sou opruk, vra Maximianus die manskappe om saam met hom in een van die tempels te gaan bid. Die gode moes om hulp gevra word. Hy was verbaas toe hy verneem dat ‘n groep Christen-soldate nie saam met hom wil aanbid nie. Hy laat hulle summier op lyn en kap elke tiende Christen se kop af. Hy het gehoop dit sou die ander tot insig bring. Die res skryf egter ‘n verklaring. Hierin maak hulle dit duidelik dat hulle nie rebelle is nie, maar soldate in diens van Rome. Hulle eerste lojaliteit lê egter teenoor God, van wie hulle slawe is. Maximianus is woedend wanneer hy die verklaring lees. Weer laat hy hulle op lyn en weer herhaal die patroon, elke tiende Christen se kop word af gekap. Hulle het vreesloos bly bely dat Jesus hulle Here is. Maximianus gee daarna opdrag aan die nie-Christene om die res om die lewe te bring.

Tertullianus (160-220 n.C.) het van vroeg af die Christene in Kartago aangemoedig om deel van hulle gemeenskappe te wees – selfs die weermag. Hulle is egter deurgaans opgeroep om aan God meer gehoorsaam te wees as aan die keiser. Dit was nie so maklik nie. Die bekende hermiet, St Antonius het in ongeveer 282 n.C. sy stilte en afsondering in die woestyn onderbreek om in Alexandrië die gelowiges, wie vir hulle geloof sou sterf te gaan bemoedig. Hy het in die tronke vir hulle gaan bid en hulle pastoraal versorg. Die gevolg was dat die gelowiges die dood met vrede te gemoet gegaan het. Dit het die keiser so woedend gemaak dat hy, ironies genoeg, besoeke deur priesters en monnike aan die gevangenes verbied het. Dit het Antonius verder aangevuur om summier voor die regter, wat die dekreet uitgevaardig het, stelling in te neem en hard en duidelik te verklaar dat hy sal voort gaan om sy kudde te versorg en dat hy hulle nooit sal versaak nie. Vreemd genoeg, word hy nie in hegtenis geneem nie. Trouens, dit wou blyk dat die vervolging eers weer afgekoel het en hy na die woestyn terug gekeer het.

Wat is die punt wat ek by wil uitkom? Ons is nog lank nie waar die kerk in die eerste 300 jaar van haar bestaan was nie. Gelowiges word egter al hoe kwater en meer mismoedig oor dit wat in die land, regering en selfs die kerk gebeur. Ons verantwoordelikheid is aan die een kant om mekaar te bemoedig en te help om van ons woede vry te kom. Woede pas nie by die gelowiges nie. Ja, dalk nog kwaad oor onreg, maar nie die vlak van woede wat daar tans heers nie. Ons het ook as gelowiges, almal van ons, die verantwoordelikheid om vir reg en geregtigheid op te staan, geregtigheid vir almal. Dit beteken dat ons regeerders en maghebbers op hulle onbesonnenheid sal wys. Wanneer ons almal dit begin doen, kan ons moontlik almal nuwe moed begin skep.

 

Advertisements

HOE WORD EK ‘N HEILIGE?

John of the Cross“Paulus, ’n geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en die broeder Sósthenes, aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here:” (Afr Ou Vert 1 Kor 1:1-2)

Hoe word ons die heiliges wie ons geroep is om te wees? Die vroeë kerk het geleer dat dit God is wat ons heiliges maak, in die baarmoeder van sy bruid. In die baarmoeder, die Kerk, word ons deur die Heilige Gees met die hemelse voedsel gevoed, die brood en die wyn. So lank as wat ons in die baarmoeder bly, sal ons al hoe meer word wat God ons bedoel het om te wees – Heiliges, mense wat Christus lewe.

Ons het egter ook ‘n verantwoordelikheid en dit is om in geloof hierdie status, as heiliges, aan te gryp en te lewe. Geloof is die primêre kenmerk van die heiliges. Hierdie geloof is egter nie gereserveer vir die “geestelikes” of die “super-gelowiges” wie alle vrae van die wetenskap kan beantwoord en oor die klowe van die onbekende kan spring nie. Geloof, volgens die Bybel, is om te vertrou dat God sal doen wat Hy altyd gesê het Hy sal doen. Hiervan is die belangrikste dat God tussen sy mense sal woon en dat hulle verewig met Hom verenig sal lewe.

Geloof is dus ‘n gawe van God. Hy het die sprong gemaak oor die kloof tussen die goddelike en die menslike. Ons ontdek nie Hom nie, Hy openbaar Hom aan ons. (Sien ons die openbaring? Dit is ‘n ander vraag.) Om in geloof te lewe is om gewoon die gawe van God Homself in Christus Jesus te ontvang. Iemand het gesê wanneer jy probeer om te bid, dan bid jy reeds. Om net te poog om in die geloof te lewe, is ‘n lewe in geloof.

Om in geloof te lewe vra egter dat ons eerlik moet wees. Wanneer die bose koningin in die verhaal van Sneeuwitjie vra: “Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die mooiste in die land”, vra sy dit nie om die regte antwoord te kry nie, maar om bevestiging te kry van wat sy reeds geglo het. Sy het gehoop om te hoor sy is die mooiste in die land. Wanneer die spieël egter antwoord dat Sneeuwitjie nog mooier is, wil die koningin moord pleeg!

Ons het ook ‘n spieël in ons binnekamer van die hart. Dit is die stille stem van die Heilige Gees wat ons vertel wie ons werklik is en wie ons bedoel is om te wees. Die stem van die ego wil ons egter oortuig dat ons die “mooiste” is en nie nodig het om te word wat God ons bedoel het om te wees nie. Aan die ander kant kan dit ook die ego wees wat ons wil oortuig dat ons verby enige hoop is en tog nooit iets anders kan wees nie. So ontkom ons dus aan enige verantwoordelikheid om soos heiliges te wil lewe. Die spieël wil nie met ons saamwerk in die mate dat dit moet sê wat ons wil hoor nie. Dit gee aanleiding tot woede, angs, jaloesie, al daardie simptome van die ego. Wat sê die spieël dan vir ons? Ons is gewoon nie die mooiste nie, maar egter ook nie verby die punt van enige hoop nie. Ons is gewone skepsels van God, goed geskape, maar deurgaans afhanklik van Sy genade en goedheid. Dit is hierdie gesindheid van afhanklikheid wat ons die stem van die Spieël laat hoor en daarop reageer.

Daar is moontlik ‘n tweede beginsel wat belangrik is om heiliges te word (wat ons reeds is!), en dit is om ‘n leerbare gees te ontwikkel. Enige onderwyser sal vir jou sê dat indien leerlinge net betyds opdaag vir klas, pligsgetrou werk en vra wanneer hulle vashaak, hulle die jaar minstens sal deur kom. Dit hang dus nie noodwendig van ‘n super intellek af nie. Hierdie beginsel geld ook in die Kerk, waar ons leer om heiliges te wees sodat ons dit in die wêreld kan leef. Ons kort nie soseer meer geestelike of meer gelowige mense nie. Ons kort mense wat opdaag, nie omdat dit hulle minder skuldig laat voel nie, maar omdat dit is wat mense doen wanneer jy onderrig wil word in die kuns van die heiliges.

Ons kort mens wat bereid is om te doen wat nodig is om gedoen te word, hoe eenvoudig die taak ook al mag wees. Ons doen wat nodig is, nie om noodwendig ‘n groot visie tot uitvoer te bring nie, maar omdat ons ‘n leerbare gees het en in heiligheid wil groei. Ons het mense nodig wat nie bang is om vrae te vra nie, of om met vrae gekonfronteer te word nie. Ons het mense nodig wat bereid is om leiding te aanvaar en leiding te neem, nie omdat die Kerk al die antwoorde het nie, maar omdat ons almal ‘n leerbare gees het. Heiliges is dus mense wat opdaag met ‘n leerbare gees.

Wees eerlik! Jy is gemaak om ‘n heilige te wees. Luister egter na die stem van die Spieël en ontwikkel ‘n leerbare gees deur op te daag, daar te wees en te doen wat gedoen moet word. Wanneer ons dit doen, dag vir dag, week vir week, maand vir maand en deur dit alles gevoed word met die hemelse voedsel, sal ons verbaas staan om te ontdek wie ons werklik is – heiliges gemaak na die beeld van God.

(Ek het hierdie artikel vry vertaal en aangepas uit die oorspronklike deur Vr. Richard Rene http://www.pravmir.com/how-to-become-a-saint/ How to Become a Saint Mysterion 19 June 2015)

 

Hemelvaart – ‘n Paar gedagtes

Ons vier vandag Hemelvaart, Jesus se terugkeer na die Vader.  Wat maak ons met die dag en hoe dink ons oor die Hemelvaart. My ervaring is dat ons ook nie regtig weet wat om oor die dag te sê nie. Ons worstel met sekere vrae soos bv: Wat sou die implHemelvaartikasie wees as Jesus nie opgevaar het nie?

Is daar regtig ‘n hemel, ‘n fisiese ruimte waarheen Hy vertrek het?

Op die eerste een antwoord ons gewoonlik dat die Heilige Gees dan nie uitgestort sou gewees het nie, of dat Hy dan tog êrens moes sterf soos ‘n gewone mens. Sommige het rondom Hemelvaart ook gesê dat dit bloot die afsluiting van sy bediening is. Dit is sy finale verheffing (Fil 2:9) en op grond daarvan sal almal moet bely dat Hy die Here is.

Op die tweede is ons versigtig om te antwoord. Ons wil nie graag verklaar dat daar nie ‘n fisiese ruimte is waarheen Hy sou gaan nie. Dit klink te veel na “ongeloof”.

Die vroeë kerk het hierdie gebeure op ‘n mistieke wyse geïnterpreteer. Daarom is daar ook geen spanning by hulle oor ‘n letterlike plek waar Jesus nou verkeer nie. Dit is om die rede dat daar in die liturgie klem daarop geplaas word dat in die Nagmaal die hemelse en die aardse bymekaar uitkom. Kerk en hemel word dan dieselfde plek. Dit moet beslis nie letterlik verstaan word nie. In die Misterie – die Brood en die Wyn – word die hemelse “sigbaar”.

Die teks in Hand 1:11 is vir my betekenisvol in die verband: “Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”  Die eerste gelowiges kan nie die hele tyd na die hemel wil staar nie. Hulle verantwoordelikheid is hier en nou. Ons kan maklik ‘n obsessiewe met die hemel ontwikkel en van die hier en nou vergeet.

Ons sou ook kon vra of die “wolk” in Hand 1:9 ‘n letterlike wolk was, of het dit dalk eerder verwys na die Ou Testamentiese “Heerlikheid” (shekinah) van God? Wanneer jy na die ikonografie van die vroeë kerk kyk, is dit ook duidelik dat dit eerder die laaste bedoeling is, as ‘n letterlike plek.

Wat het Jesus dan gedoen met sy hemelvaart? Die skeur van die voorhangsel met sy kruisiging gee reeds die aanduiding dat daar ‘n nuwe bedeling na vore tree. Hiervan praat die Hebreërskrywer in Hebr 4:16 wanneer hy sê ons kan nou met vrymoedigheid na die genadetroon gaan. Christus het met sy menslikheid na die Vader teruggegaan en ons menslikheid met die Goddelike versoen. Christus het nie sy menslike natuur agter gelaat met Sy hemelvaart nie.

Die mens kry nou die geleentheid deur die hemelvaart om deel te kry aan die goddelike natuur (2 Petr 1:4). Ons word herstel in ons gemeenskap met die Vader. Die terugkeer van Christus na die Vader is die kulminasie van die versoening wat Hy bewerk het. Sy versoening word met die terugkeer in die Vader vir ons ‘n volmaaktheid. (Ek verkies om te praat van ‘n volmaaktheid, eerder as ‘n werklikheid. Werklikheid plaas ons weer in die ruimte van die letterlike en fisiese) Paulus praat ook hiervan in Kol 3:3: “Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” Vir die vroeë kerk was hierdie volmaaktheid in die sakrament van die Eucharistie gevier.

Dalk kan jy gedurende Pinkster hieroor mediteer.

Om te sterwe

Ons vrfelicitas-perpetuaa graag die vraag: “Hoe lewe jy?” Met hierdie vraag impliseer ons ‘n klomp sake, bv is jou gedrag van so ‘n aard dat ander Christus in jou lewe kan sien. Die Millenniuls (rofweg die generasie tussen 25-35) vra weer of jy elke geleentheid aangryp om die lewe te leef. Hier word veral bedoel dat jy moet reis en geniet. Beide die verduidelikings het meriete in. Natuurlik moet ons so lewe dat ander Christus in ons kan sien en, soos die cliché lui: “Twenty years from now you will be more disappointed by the things you didn’t do than by the ones you did do. So throw off the bowlines, sail away from the safe harbor. Catch the trade winds in your sails. Explore. Dream. Discover.”

Daar is egter ‘n ander vraag wat ons van wegstuur en dit is die vraag; hoe moet ek sterf? Dalk is dit ‘n vreemde vraag met medici wat ons die reg om te sterf ontneem. Dink maar aan al die (kroniese) medikasie wat jy gebruik. Terwyl ek hier skryf, lê daar ‘n lidmaat (87 jaar) nou reeds vir vyf maande in die hospitaal. Dokters hou hom aan die lewe, terwyl sy familie elke dag heen en weer pendel, want wanneer sterf hy? (Net hierdie opmerking maak die vraag na genadedood oop, maar kom ons los dit vir later.)

Hoe aanvaar ons ons eie sterflikheid? En ek bedoel dit as gelowiges wat onder alle omstandighede ‘n getuie wil wees van die lewende God. Op ‘n baie oppervlakkige noot, indien jy so seker is waarheen jy gaan wanneer jy doodgaan, waarom is jy so bang om dood te gaan? Soos Paulus dit stel (Rom 14:8) “As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” Om nie te wil doodgaan nie, kan later grens aan ‘n fobie vir siekte en dood. Die vroeë gelowiges was juis ook in hulle sterflikheid ‘n getuie van ‘n lewende God wat hulle beleef het as ‘n tasbare misterie.

Een van die mooi verhale is die rol wat die arena in die lewe van die mense van die Romeinse ryk gespeel het. Die doel van die arena, behalwe om te vermaak, was om te wys hoe reken Rome met oortreders af, hoe magtig is hul krygers en later, hoe deel ons met mense wat nie die keiser as god wil eer nie. Kartago in 203 n.C. was geen uitsondering nie. Die arena was die Superrugby van die dag maar ook die plek waar die hierdie waardes van die samelewing tentoongestel was. Die oortreders in die arena vlug van die diere wat hulle verniel, skree van pyn en trek in mekaar om die wrede dood te ontvlug.

Met die eerste martelare in die arena gebeur daar egter iets anders. Perputua en Felicitas, twee vroue, een ‘n slaaf en die ander welvarend en beide in die tronk omdat hulle Christus as Here en God bely het, en nou ook saam in die arena. Wanneer die diere op hulle afstorm, staan hulle en hou mekaar vas. Slaaf en adellike! Wanneer die diere hulle verniel, deins hulle nie terug nie, hulle beur met moeite en bloed orent om die skare en die dood in die oë te kyk. Naak en gestroop van alle menswaardigheid, hou hulle mekaar steeds vas en kus en bemoedig hulle mekaar. Intense liefde vir mekaar en intense liefde vir God, wat self ook moes sterf. Hierdie openbare belydenis met liggaam en vreesloosheid vir die dood, bring ‘n skuif in die gemeenskap en laat die kerk uit sy nate uit bars.

Die roep van die heidene op straat en in die arenas, was: “Vide! – Kyk!” Kyk hoe leef hulle. Nie luister hoe preek hulle nie, of kyk hoe aanbid hulle nie, maar kyk hoe lief het hulle mekaar en kyk met hoeveel vrede sterf hulle. Hoe sou jy vandag lewe en hoe sou jy vandag sterwe?

Jou dissipline van stilte kan jou met hierdie vrae help.

 

 

Om te lewe

Thomas Merton skryf dat die oplossing vir die probleem van lewe, is die lewe self. Die lewe word nie verkry deur redenering en analisering nie. Die lewe word verkry deur te leef! Totdat ons nie ons onderskeidingsvermoë begin uitleef nie, het ons geen vertrekpunt waarmee ons kan werk nie. En, voordat ons nie misluk nie, het ons geen manier om ons sukses uit te werk nie.Merton

Onthou nou dat Merton baie bewus was van die feit dat om te lewe begin by God wat in ons lewe. In Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Sy argument is eintlik dat jy nie kan lewe, en daarby bedoel hy baie prakties, in hierdie wêreld en in hierdie lewe, as jy nie eerstens die lewe binne jou ontdek nie.  Die vermoë om werklik te kan lewe begin by Hom wat binne in ons lewe. Hom ontdek ek deur stilte en inkeer na binne.

Madame Guyon sou Merton antwoord deur te verklaar dat sy saamstem en dan byvoeg, dat hierdie proses van inkeer na God, leer jou om alles hier binne af te lê en oor te gee aan God. Hierdie proses leer jou egter ook wat werklik belangrik in die lewe is en wat jy maar kan aflê in die lewe. Onnodige goed wat jou vashou (Ja, dikwels letterlike “goeters”!).

Hierdie praktiese lewe, leer Biskop Siprianus (258 n.C.) die gelowiges in Kartago wat onder geweldige vervolging deur geloop het, bestaan uit ‘n lewe van geduld. Leef geduldig met liefde en verdraagsaamheid teenoor alle mense. Hierdie verdraagsaamheid het aan die een kant ingehou dat daar volhard was met stilte, gebede en die vier van die Nagmaal. Aan die ander kant het dit ingehou dat gelowiges volhard het om alle mense te versorg, of hulle Christene was of nie. Daarom dat die ongelowiges op straat deurgaan die opmerking gemaak het: “Kyk hoe lief het hulle mekaar!”

“Religion must be defended not by killing but by dying, not by violence but by patience.” (Lactantius 240 – 320 n.C) Geduld is die ware verdediger van ons geloof.

Die radikale kruisboodskap – SEWE KRUISWOORDE

easter2007Ek is al hoe meer oortuig daarvan dat ek bitter min van die implikasie van Jesus se lewe en kruisiging verstaan. Ek is trouens doodseker ek weet nie wat dit beteken om ‘n volgeling van Jesus te wees nie. In die 21ste eeu is die boodskap van Goeie Vrydag net te ver verwyder van die kultuur waarin ons lewe. Trouens, Goeie Vrydag stroop my van ‘n klomp sekerhede. Veral die goedkoop, soetsappige evangelie van “Wat sou Jesus doen?” asof die kruis ‘n morele plig op my plaas.

Jesus se bediening, sy koms na die wêreld, sy boodskap was net so kontra, kontra-kultuur, kontra-ekonomie, kontra- sosiaalaanvaarbare norme. Maar, dit is aan die kruis waar Hy sy bediening in sewe sinne saamvat, dat ons die radikaliteit van die kruis besef. Wanneer jy jou dan daaraan wil meet, het jy natuurlik die goedkoop maklike uitweg om te wil verklaar: “Hy het daar vir my gesterf, ek is gered”. Of! Jy kan kyk of jy werklik volgeling is. Jesus het in sy dood gedemonstreer wat Hy kom leer het.

1ste Kruiswoorde: Luk 23:34 “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
In Mat 5 begin Hy om die nuwe wet, die nuwe standaard van sy koninkryk uit te spel. Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. En “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Hy demonstreer dit tot in sy dood in wanneer Hy dié wat Hom aan die kruis vasslaan vergewe. Genade vir hulle wat dit nie verdien nie!

Volgelinge van Christus vir wie die kruis ‘n realiteit is, spreek mense vry en vergewe hulle. Volgelinge van Jesus is veral sag met die wat die evangelie nie ken nie. Ons is so sag en vroom met mekaar, maar met die Malemas, Zumas, Guptas van ons dag het ons geen genade nie en roep ons om wraak. Die radikaliteit van die kruis sny deur my en dit pynig my want ek roep ook eerder om wraak en vergelding.

2de Kruiswoorde: Luk 23:43 “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Die geweldenaar aan die kruis spot en die ander pleit. “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Met deernis gee Christus ook hierdie uitvaagsel die sekerheid van die ewige lewe. Sy eerste twee sinne is die van redding en vergifnis aan hulle wat dit nie verdien nie. Kinders van God is vredemakers. Dis mense wat teen alle verwagtinge in oplossings soek. Die radikaliteit van die kruis sny deur my, want ek wil eerder veg as vergewe, eerder vergeld as vrede maak!

3de Kruiswoorde: Joh 19:26-27 “Daar is u seun.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”
In sy eie ellende sien Hy die nood van ‘n weduweevrou wat binne die kultuur van die dag nou niks meer het nie. Hy sterf soos Hy sy bediening begin het: “Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word. En, “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”

Die radikaliteit van die kruis sny deur my want ek sien nie meer die nood van die armes raak nie. Die dood van die onskuldige polisieman in die uitvoering van sy taak gaan my verby. Ek is die bedreigde een in hierdie wêreld van ramp en teëspoed. God moet dit met my laat goed gaan. Daarom is al gebed wat ek nog ken: “Gee my, my daagse brood!”

4de Kruisewoorde: Mat 27:46 My God, my God, waarom het U My verlaat?
Die paradoks van die kruis kulmineer in die paradoks van Godsverlatenheid. Christus beleef self God as afwesig, maar demonstreer wat geloofs-twyfel beteken, wanneer Hy steeds na sy Vader kan roep. Pyn, benoudheid en vervolging kan jou aan God laat twyfel, maar dit kan God nie kanselleer of uitvee nie. “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Arm van gees is om te weet ek is in alle opsigte totaal van God afhanklik.

Die radikaliteit van die kruis sny deur my omdat ek steeds my eie planne maak. Ek leef selfgenoegsaam en tevrede In my voorspoed. God moet steeds voorsien en Hy moet my aanhou seën, veral materieel.

5de Kruiswoorde: Joh 19:28 “Ek is dors.”
Hy word in sy noodroep suur wyn gegee. Hy aanvaar dit sonder teenspraak, want Hy het geleer: “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” Om die wil van sy Vader te doen het vir Hom brood en voeding beteken. Hy het gesterf om te demonstreer wat geregtigheid beteken.

Die radikaliteit van die kruis roep my om tevrede te wees met dit wat ek het, die nood van ander raak te sien en op te staan vir reg en geregtigheid van ander! Die radikaliteit van die kruis sny deur my, want ek wil vir my eie reg opstaan, ek is nie tevrede met wat ek ontvang het en met die regering wat my belasting vat nie. Ek het trouens vrede met 19 miljoen? mense wat staatstoelaes ontvang, ek vererg my daaroor, maar self gaan ek niks doen nie.

6de Kruiswoorde Joh 19:29 “Dit is volbring!”
Jesus ledig homself vir ander. Hy kan niks meer doen nie. Sy opdrag, sy visie vir die wêreld val nou op ons. Sonder teenspraak aanvaar Hy sy dood, want Hy het geleer: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.” En Hy het ons gewaarsku: “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.”

Die pynlikheid van die kruis sny deur my, want ek is nie sagmoedig nie, ek wil geen lyding aanvaar nie, of dit nou siekte of dood is. God moet genees, God moet my red van die dood. Dis sy plig, daarom is ek mos ‘n Christen. Die kruis konfronteer my met my eie “ek” die ego wat gelukkig hemel toe gaan.

7de Kruiswoorde: Luk 23:46 “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”
Hy sterf in vrede, totaal aan God oorgegewe, geen verwyte of woede nie. Hy sterf met net die wete dat Hy nou in God se hand is. Hy het geleer: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” Die radikaliteit van die kruis konfronteer my met hierdie vrede en reinheid. Reinheid wat nie met ‘n selfopgelegde moraliteit te make het van; mag nie dit of mag nie datnie, maar ‘n reinheid wat net vir God en ander voor oë het. ‘n Reinheid wat vir regeringsamptenare kan bid, ‘n reinheid wat nood wil verlig en wegkyk van eie belang, ‘n reinheid wat meer besorg is oor ander se welstand as my eie plek in die hemel.

Jesus sterf soos Hy geleef het. Die kruis vra dieselfde van my. Dit is pynlik want die kruis vra ‘n totale omvorming, ‘n totale anders dink oor God, die lewe, my lewe en die lewe van minstens 55 Miljoen ander wat hierdie stukkie grond in SA met my deel.

The role of our hands in Meditation.

I have been creating/making things for others for many years. Be it a wedding dress, a tablecloth, a Christmas gift – you name it.
I have always said that creating or making something for another person is a way to ensure that I have that person in my mind for the whole period that I am busy with whatever creation. I tend to think about our relationship, about the person’s character and good qualities and usually also about our journey together.
I have, however, started with another form of “creation” a year or so ago. I took up a form of embroidery which is called “paint by the needle”. Not in my wildest dreams did I foresee how this new hobby would take my daily discipline of meditation to a deeper level.
Painting with the needle requires focus and therefore also, in some instances, withdrawal. Although I may sit in the same room as my husband, I would be busy with my own thoughts and the ritual of manipulating the needle and thread with my hands. My thoughts shifted from the person for whom I was painting the picture to God and his creation. My key thought is: If I love the people for whom I may be making something and have the hope that they will enjoy and protect whatever I am creating, how much must God love us if He made us responsible to look after and protect his creation? The rhythm of my hands and the colours of my pictures became the tools with which I experience God, His voice and His love at a deeper level and in silence. It makes me look differently at those that I love and those that I have never loved before. It makes me experience and respect the environment and all of creation so much more than before.
I am still at the beginning of this journey – I am convinced that there is so much more to come.
I attach a copy of the picture that I am currently busy with as this may give you some understanding of the reason for my deepened meditative journey.

Alta Theron
Alta Leeu