Hoe beskryf ek ‘n plek soos Taize aan iemand wat nog nooit daar was nie? Dit is telkens my frustrasie wanneer ek iets van my belewenis met mense wil deel van dit wat ek by Taize beleef en ervaar het. Om te reflekteer oor die intens spirituele belewenis is op sigself reeds moeilik. Vertel ek van honderde jongmense wat op ʼn Vrydagaand 21:30 steeds in die kerk sit om in stilte by ʼn kruis te bid? Nee, die gebedsdiens is reeds verby. Hulle kon al geloop het en iets by die kafeteria gaan kry het om te drink. Hulle bly egter, opgevang in die stille teenwoordigheid van God. Paasnaweek het die laastes die oggend 04:00 die kerk verlaat.
Toe ek die laaste keer selfs ʼn DVD aan ʼn klomp predikante gewys het en gevra het wat ons by Taize kon leer, het een opgemerk dat dit net ʼn week-lange vakansie vir ʼn klomp jongmense is. Regtig? Duisende jongmense tussen 16 en 30, tot sesduisend oor die Paasnaweek, kom vir ʼn week na Taize om drie keer per dag in ʼn gebedsdiens te sit, een keer per dag ʼn uur Bybelstudie by te woon en dan ook nog ʼn kleingroepbyeenkoms in die middae, en dit vir vakansie? Dan is die maaltye nog boonop eenvoudig en hulle moet werk, wat insluit skottelgoed was en badkamers skoonmaak. Dit klink nie na vakansie nie. En kan ek byvoeg, die bybelstudie is ʼn goeie stuk Bybeluitleg wat later in die kleingroepgesprek gedekodeer moet word vir die daaglikse toepassing daarvan.
Taize se gemeenskap bestaan uit 70 broers wat in eenvoud en gemeenskap saam lewe. Hulle primêre roeping is om jongmense op ʼn ontvanklike wyse aan Christus bloot te stel. Hulle doen dit deur voorsiening te maak vir die twee grootste behoeftes wat ons jongmense vandag het, maar nooit sal erken nie. Die een is aanvaarding en die ander is stilte. By Taize is jy welkom, op die voorwaarde dat jy nie ouer as 30 is nie en indien jy jonger as 18 is, moet daar ʼn groepleier saam kom. Ouer mense word op beperkte skaal geakkommodeer, maar Taize is primêr vir jongmense. Hier kan jy jou vrae kom vrae en jou twyfel kom uitspreek. Jy gaan egter nie vermaak word nie. Die drie gebedsdienste is trouens in klassieke aanbiddingstyl met van die liedere wat met orrel begelei word, maar meestal met ʼn kleinerige sleutelbord en selfs geen begeleiding nie, behalwe die stemme van voorsangers wat ook nie sigbaar is nie. Almal sit op die grond met die fokus op God.
Die skoonheid en eenvoud van hierdie aanbidding, die stilte en die totale fokus op die aanbidding van God, werk egter op so ʼn kragtige wyse dat trane dikwels deel van die aanbidding is. In stilte werk die Heilige Gees en ontmoet ʼn genadige God mense in die oomblik. Jongmense sal onbevange na die dienste met die broers gesprek voer. Hulle is saans na die laaste diens 21:30 steeds in die kerk tot beskikking van die jongmense.
Wat leer ek by Taize?
God is ongelooflik goed. Kan ons nie meer in ons eredienste doen wat Hy in sy woord ons leer nie – Sy huis is ʼn plek van aanbidding, nie vermaak en goeie preke nie, aanbidding.
Jongmense se diepste begeerte in die geloofsgemeenskap is nie vermaak en opwinding nie, dis opregtheid en ʼn ontmoeting met God.
Stilte is vir baie erg bedreigend en ons eerste reaksie is om daarvan weg te kom of dit opnuut met iets te vul. Dit kos baie opoffering om stilte in te rig, maar daar is geen kragtiger leermeester as juis stilte nie. Daar word jy met jouself gekonfronteer en met God omvou.
Aanvaarding: Om mense onvoorwaardelik te aanvaar bly steeds my grootste uitdaging, ek dink dit is die kerk, in die algemeen, se grootste uitdaging. By Taize hoef jy nie eers te verander en dan is jy welkom nie. Jy is welkom, God sal jou op Sy tyd omvorm.
(Jong)Mense kan vir hulleself dink. Gee vir hulle die Woord onverdund en lei hulle om dit self in hulle lewe toe te pas.
Ons hoef nie mense te leer om te bid nie. Gee hulle net die ruimte. Aanbidding van God is in ons wese ingeskape.
Minder is meer.