Waarom mediteer ons?

Beginsel 1

Geloof is gelyk aan liefde want God is liefde. Dus as ek in God glo, glo ek in die volmaakte liefde. Om te glo is om lief te hê 1 Joh 4: “7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.”Wat is die taal van die liefde? Stilte is God se eerste taal, alle ander is swak vertalings. Om hierdie taal te hoor moet ons leer om stil te wees en saam met God te wees, al vind ons aanvanklik geen satisfaksie daarin nie. Ons sal weldra die begeerte in ons voel posvat om al hoe meer by God te wees. Want God se begeerte is dat ‘n intieme goddelike eenheid tussen Hom en my moet tot stand kom. In hierdie stilte by God kommunikeer Hy suiwer geloof in my in deur sy Gees. Die doel van gebed is ten diepste om hierdie intieme eenheid te voed. Hierdie proses is soos enige ander verhouding ‘n lewenslange reis, ‘n op weg wees met en na God. Dit is ‘n begeerte om met Hom nou en hier reeds verenig te word.

 

Omdat God dit gee is die eerste ding wat met my gebeur op hierdie weg van stilte die begeerte om nog meer van die stilte te kry. God is besig om sy lewegewende asem in my in te blaas. Ek kan natuurlik wegloop, want daar gebeur dan niks. Trouens my gedagtes dwaal so aanmekaar weg dat dit net nie moontlik is om aanvanklik stil te wees en by God te verkeer nie.  Ek kan besluit om eerder weer terug te vaal op my monotone gebedstyl waar ek met my geneul en gesanik voor God rondkruip soos ‘n baba opsoek na nog ‘n bietjie melkkos.

 

Indien ek volhou is die volgende wat ek sal ervaar dat selfs gedagtes, geheue en verbeelding deur die teenwoordigheid van God vasgevang word. Nou is ek op die pad van eenheid, die pad van volmaakte geloof en liefde.

 

Beginsel 2

Hierdie eenheid met God is ‘n omvormende eenheid. Hoe meer ek op die pad van stilte met God besig is, hoe meer sal ek sekere bewyse in my lewe vind dat God inderdaad besig is om my met sy liefde te verander, te oorrompel. Wat is hierdie bewys dat God met my besig is?

  1. Omdat ek sekere gawes begin ontvang sal ek nie al hoe meer geestelik verwaand raak nie, maar al hoe meer diensbaar. Christus is ons voorbeeld. Ek bevind my dus buite my stilte daar waar diens nodig is.
  2. Ek word bevry van my emosionele onvolwassenheid. My gedrag word nie meer deur my emosie bepaal nie, maar my emosie word saam met my geloof en intellek aan God onderwerp. Emosie word nie onderdruk of ontken nie, maar dit beheer my nie. Ek dink anders oor God. Ek word gesuiwer van al my konsepte oor God en hierdie “Gansandere” het ek net onvoorwaardelik lief Rom 11:36 “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid!”
  3.   Ek praat nie meer in finale terme oor God nie: “God kan nie, God sal nie!”, of selfs: “God sal en God kan!” Joh 15:18 “As die wêreld julle haat, onthou: Hy het my voor julle gehaat.” Hierdie pynlike realiteit vind ek ook nou, dat my geloofsgemeenskap waarin ek so lank gevoed is, begin vir my vreemdelinge word en ek ook vir hulle. Ek begin egter verstaan wat Christus bedoel het toe Hy gesê het sy Liggaam is die Kerk. (Ek soek nie ‘n ander kerk nie, ek sal daar ook ontuis voel, ek dien)
  4. Ek verloor alle selfsug. Die “ek”, eintlik maar die ego, maak totaal en al oop vir die “Ek is”. “Laat U wil geskied nogtans nie soos ek wil nie, maar soos U wil.” (Mat 6:10). Dit is ‘n lewenslange reis, waarin ek een word met God.

Om met hierdie liefdespel besig te wees, gaan vir jou groot verassings in jou geloof inhou. Maar ons is ingestel op die eenheid met God nie die ervaring nie.

 

5 responses to “Waarom mediteer ons?

    • Die gevaar is nie die duiwel wat inkom nie, maar die duiwels wat begin om uit te gaan:) Ons is nie leë kruike nie. Die duiwel is nie almagtig nie. Stilte is so oud soos die Psalmboek in die Ou Testament. Dit is God se Gees binne ons wat vir ons intree met versugtinge wat nie in woorde uitgespreek kan word nie. Lees gerus weer die hele Mat 6 veral vers 6 waar Jesus ons nooi om in ons geheime kamer hier binne ons in te gaan waar net die Vader kan sien en teenwoordig is.

  1. Ek wil graag meer weet hoe om te mediteer en God te vind. Soms wens ek net ek kan op n stil plek kom en net met God praat. Dit is nie vir my moontlik nie. By die huis is n alewige geraas.

Leave a reply to Johan Cancel reply