LYDING en HEILIGE WEEK

KRUISIn hierdie Heilige Week, waar ons opnuut aan Christus se kruisdood dink, kan dit goed wees om ons theologia gloria te veruil vir ‘n theologia crucis. In eersgenoemde vind gelowiges graag vir God in sy kragtige dade van mag, wonderwerke, oorwinning en voorspoed. Dit is egter in laasgenoemde, theologia crucis, waarin ons God se grootste selfopenbaring raaksien, die lyding aan die kruis. Ons word in hierdie dae weer herinner dat om al hoe meer soos Jesus te word niks met ‘n oppervlakkige moralisme te make het nie, maar eerder om Jesus in sy lyding na te volg.

In hierdie dae van geweld, misdaad en algehele minagting van respek teenoor vroue en kinders, moet ons weer onsself herinner  dat die Nuwe Testamentiese gelowiges mense was wat lyding geken. Hulle moes vanuit die kruis sin en betekenis vir hulle alledaagse lewe vind.  Elke brief van Paulus, behalwe aan Titus, maak melding van Christelike lyding.

Dit kan vir ons eie geloofsvorming goed wees om midde in die onsekerheid en onveiligheid weg te stuur van die oppervlakkige uitlatings soos “Is God nie net ongelooflik goed nie?!” Paulus leer ons dat God juis te vinde is in lyding, swaarkry, beproewing en menslike swakheid. (2 Kor 12:7-10 Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.)

Dit is in lyding waar ons die opofferende God ontdek. In lyding ontdek ons ‘n totaal onderspeelde kant van die kruisgebeure, naamlik dat God mens geword het sodat ons gode kan word. 2 Petr 1:4 Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. “In sy eindelose liefde het Hy geword wat ons is, om ons so te maak wat Hy is” (Irenaeus van Lyons 130-202).

Lyding laat my nie triomfantlik lewe nie, maar afhanklik en nederig. Lyding laat my, anders as triomfantelisme, weg kyk van myself en ander raak sien. Dit kan sekerlik die paradoks van lyding genoem word. Wanneer ons die kruiswoorde “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mark 15:34) triomfantlik wil lees, meen ons die fokus is op Christus want die Vader is mos weg. Wanneer die teks uit die perspektief van die theologia crucis gelees word, raak God sigbaar en Christus skuif na die agtergrond. Sy lyding wys juis weg van Homself na God wat in die skepping onverstaanbaar aanwesig is. Na wie anders kan daar midde in intense lyding geroep word as juis na God.

1 Petr 4:12-13 Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.

 

Advertisements