The Spear – Hoe dink ek as gelowige daaroor

Dit is Pinkstertyd in die kerklike jaar. Sondag sal meeste kerke wêreldwyd die uitstorting van die Heilige Gees vier en herdenk. Tog is dit nie wat ons land aan die praat het nie. Dit is die skildery van Zuma in die Goodman-galery wat die sosiale netwerke laat gons en algemene gesprekke oorheers. Wat is die mening van die kerk oor hierdie kunswerk? Ek twyfel of daar ʼn eenstemmige antwoord kan wees, daarom kan ek hoogstens my mening hier deel. John Lennon sou gesê het dat die verantwoordelikheid van die kunstenaar is om die samelewing te vertel wat hulle voel, nie hoe hulle moet voel nie. Die kunswerk moet dus ʼn refleksie van ons almal se gevoelens wees.

Die vraag is, hoe ver neem jy die kunsvorm om uitdrukking te gee aan die gevoelens van die mense van Suid Afrika oor die president. Hou in gedagte dat ons land verdeel is oor ons president. Vanuit ons wit afrikaner denke sou ek wou waag deur te sê ons het min respek vir hom. Self het ek hom al ʼn nar genoem en meen ek sy wegkruipery agter sy kultuur is ʼn verdoeseling van wie en wat hy werklik is. My mening is dat in ʼn beskaafde demokrasie behoort kultuur gerespekteer te word, maar kultuur ontwikkel en groei om aan te pas by nuwe standaarde van moraliteit en algemeen aanvaarbare etiese gedrag. Of, moet ons in die naam van kultuur dit steeds verdra dat vrouebesnydenisse en gedwonge huwelike maar voortgaan? Kan dit aanvaarbaar wees om in ʼn moderne demokrasie meer as een vrou en nog buite-egtelike verhoudings ook te mag hê?

Hoe ver met proteskuns? Johannes die Doper het Herodes aangespreek oor die vrou van Herodes se broer wat hy vir homself geneem het. Daarvoor het hy met sy lewe geboet. Johannes het onbevange die onreg aangespreek.  Op die funksie die aand het Herodias met proteskuns gewys wat sy daarvan gedink het – die kop van Johannes op ʼn skinkbord tussen die gaste (Mat 14:11). Banaal verby!

Kuns is in ons demokrasie die een manier waarop protes aangeteken kan word, dink maar aan die spotprente van die vlymskerp Zapiro. Die kerk behoort egter ook haar stem profeties te laat hoor oor dit wat in ons land en ons presidensie aan die gebeur is. Ongelukkig het die narratief wat in die Goodman-galery pragtig met kuns uitgebeeld word, in die slag gebly met die oorsteek van die grens van banaliteit. Terwyl die narratief die bedrog, korrupsie en magsvergryp met die kunswerk verwoord het, het die geslagsdele op die “Lenin” kunswerk van Zuma, die verhaal gekelder. Dit het nou ontaard in die onvolwasse retoriek van rassisme. Die kunstenaar het homself en sy storie ontman. En dit is tragies. ʼn Grens is oorgesteek, in die naam van spraakvryheid, wat ongelukkig nie meer die onreg belig nie, maar diepgewortelde woede en rassisme laat uitborrel.

As gelowige het ek hiermee ʼn probleem en meen ek die kunswerk daal laer as die korrupsie, magsmisbruik en seksisme wat dit wou blootlê. Die kunstenaar, dink ek, het nie in sy doel geslaag nie.

Maar, dis maar net my mening. Sien die skakels onder vir ander menings:

http://www.businessday.co.za/articles/Content.aspx?id=172274

http://www.dieburger.com/Rubrieke/WillemPretorius/Zuma-is-nou-voelvry-verklaar-20120523

Advertisements