WOESTYN – PLEK VAN SUIWERING

surian3Ek het in 1997 die eerste keer die kloosters in die westelike woestyn van Kairo/Egipte besoek. Ons groep pelgrims het die oggend vroeg vanaf die lughawe direk na die Baramus klooster vertrek. Kaïro was stil en ons het gemaklik deur die stad beweeg. Dit was ‘n vreemde wêreld wat ek betree het. Geel woestynsand, ‘n dorre landskap met groen oases van lewe tussen deur. Iets hiervan het my aan die Kaapse Weskus herinner. Aan die einde van die somer was alles geelwit en droog. Wanneer die wind oor die landskap gewaai het, was dit asof die sand nie gekeer kon word nie.

Woestyn en klooster is plekke van aflaai en agter laat. Ek sou oor jare leer dat ek meer daar afgelaai het as wat ek ooit besef het ek dra saam met my. Dit is egter in die aflaai wat jy ook weer mens word. Hoe meer die Wind jou suiwer en die droogte jou met jou eie siele droogte konfronteer, hoe meer word die spasies wat gelaat word nuut gevul. Starre teologiese denke is gevul met nuwe inhoud wat nie altyd logies uitgepak kan word nie. Rasionele argumente moes plek maak vir ‘n mistieke belewenis. God word realiteit. In die stilte van die woestyn raak die Gees hoorbaar in die druis van die bloed deur jou are.

Israel moes destyds deur die woestyn sodat hulle gesuiwer kon word van hulle afgode en weer die Skeppergod kon leer ken. Paulus moes ook eers deur die woestyn gaan (Gal 1:17) om gestroop te word sodat hy bruikbaar kon wees. Ook hy moes sekerlik eers sy geformaliseerde godsdiens onder oë neem, die fyn uitgewerkte teologie dekonstrueer en sy eie wettisisme kruisig.

Hierdie nuwe Paulus wat uit die woestyn terugkeer, skryf dan pragtig oor die misterie van God; Gal 3:3-6 Hy het sy misterie deur ’n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, en as julle dit lees, sal julle ’n begrip kry van my insig in die misterie van Christus. Nog nooit tevore in die geskiedenis is die misterie aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. En dit is die misterie: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.

Dit was ‘n ander Paulus wat volgens Lukas in Handelinge 17 die Ateners met logika wou oortuig en die Paulus wat uit die misterie vertel van sy belewenis van God en sy hemelse ervaring (2 Kor 12). Dit is waarom ek dink hy al sy vorige prestasies nou as waardeloos beskou. Om Christus te ken oortref alles in waar. Hierdie ken is ‘n verhoudingsterm en nie die uitvloeisel van ‘n logiese denkproses nie (Fil 3:7 en 8).

Jare later, hier in Lydingstyd, beleef ek steeds die suiwering van die woestynervaring. Dit is asof die Lydingstyd my opnuut konfronteer met die woestyn binne my. Dorre sand skuur teen die mens wat God my bedoel het om te wees. Hierdie dorre sand van woede waai teen my binneste vas wanneer  ek met die politiek van die dag gekonfronteer word. Die growwe sand van onvergewensgesindheid verwoes die vrug van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing wat die Heilige Gees na vore laat beur. Dit is daarom goed om in die Lydingstyd tyd te maak vir stilte. In die stilte van die woestyn sien ek die dorre wêreld binne myself raak.

Gees van Christus waai deur die binneste van my onstuimige gemoed. Wind van Christus bring kalmte oor die storm wat oor die see van my gees woed. Maak my die verfrissende bries in die skemer van ons land.

http://www.premontre.org/subpages/loci/imagines/imjackson/gal-deir%20el%20baramus.htm

Advertisements