Donker nag van die siel

John of the CrossDie term is deur Johannes van die Kruis gebruik in sy mistieke werk “Die donker nag van die siel” om die reis van die gelowige na binne te omskryf. In hierdie reis beleef die gelowige dan die afwesigheid van God. Waar die verwagting was dat hoe verder op hierdie pad van eenheid met God beweeg word, die ekstase al hoe groter sal word, gebeur die omgekeerde. Die gelowige voel al hoe verder van God – Godverlate. http://www.ccel.org/ccel/john_cross/dark_night.html

Daar gebeur twee dinge in jou lewe wat jou in die donker nag inlei. Die een gebeur deur ‘n krisis in jou lewe en die ander gebeur wanneer jy die weg van stilte begin bewandel.

Wat is hierdie donker nag van die siel?
Jesus verklaar in Joh 12:25-25 “Dít verseker Ek julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou.” Die koringkorrel gaan in die donkerte van die grond in om daar te “sterf” maar op te spring tot nuwe lewe.

Paulus beskryf in Kolossense 2-3 hierdie “afsterf” in terme van Jesus se dood; Vers 20 “Julle het saam met Christus gesterwe…..” Kol 3:1 “Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.” Vers 3 “…want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.”

Die donker nag van die siel is om in die donkerte van die graf in te gaan. Daar sien ek niks meer nie, maar dit is waar Christus reeds vir my wag. Hy lei my daarin, daardeur en laat my saam met Hom opstaan. Voor die verligting en nuwe lewe is die graf eers nodig. Ons hele wese word deur die ontmoeting met Christus in die graf omvorm.

Wat is hierdie omvorming of verligting?
Voordat ek God vind, moet ek Hom eers verloor. Om God te “verloor” is die donker nag. Wat ek egter verloor is my eie idees en beelde oor God. Ek verloor die god wat ek oor jare geskep het en gemeen het, is God. Om los te maak van hierdie bekende beelde van God is pynlik. Onthou, dit is egter net die illusie van God. Diep in my wese is ek besig om God te ontmoet vir wie Hy werklik is. Hierdie eksistensiële krisis kan my laat terug deins en my steeds laat vasklou aan wat ek meen God is. Dit kan ook van weë my eie ego my die geloof laat verloor. Hoe kan daar ‘n ander konsep van God wees as wat ek self gekonstrueer het? Augustinus het gesê: “As jy God kan verstaan, dan is dit nie God nie. As jy God verstaan dan het jy iets anders as God verstaan. Al meen jy dat jy God selfs net gedeeltelik verstaan, mislei jy jouself met jou eie gedagtes.”

Wanneer die Koninkryk van God egter deurbreek, is pyn en vreugde deel van die emosie, pyn oor verlies van die bekende, vreugde oor die nuwe misterie wat in my wese opspring. Deur die verskriklike verlies, word God nuut beleef. Stadig deur die donker nag van die siel kom die openbaring dat verlies van my konsepte oor God, is noodsaaklik vir die sien van Wie God werklik is.

Deur die Lig, wat nie deur die donkerte uit gedoof kan word nie, gebeur daar ‘n tweede ding. Ek ontdek die ware self binne my, die mens wie God my bedoel het om te wees. Hierdie ware mens word egter ook net ontdek wanneer ek die ego aflê. Dit is ook pynlik, die verlies van die ego, maar hierdie verlies is onlosmaaklik verbind aan die eerste aflê. Afwesigheid word omvorm tot intimiteit, intimiteit met die Gans-andere en intimiteit met myself. (Jy moet jou naaste lief hê soos jouself!)

Die donker nag van die siel is dus die opstanding saam met Christus tot verligting. (Ef 1:18 “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, ..” – The eyes of your understanding being enlightened..KJV)