Hemelvaart – ‘n Paar gedagtes

Ons vier vandag Hemelvaart, Jesus se terugkeer na die Vader.  Wat maak ons met die dag en hoe dink ons oor die Hemelvaart. My ervaring is dat ons ook nie regtig weet wat om oor die dag te sê nie. Ons worstel met sekere vrae soos bv: Wat sou die implHemelvaartikasie wees as Jesus nie opgevaar het nie?

Is daar regtig ‘n hemel, ‘n fisiese ruimte waarheen Hy vertrek het?

Op die eerste een antwoord ons gewoonlik dat die Heilige Gees dan nie uitgestort sou gewees het nie, of dat Hy dan tog êrens moes sterf soos ‘n gewone mens. Sommige het rondom Hemelvaart ook gesê dat dit bloot die afsluiting van sy bediening is. Dit is sy finale verheffing (Fil 2:9) en op grond daarvan sal almal moet bely dat Hy die Here is.

Op die tweede is ons versigtig om te antwoord. Ons wil nie graag verklaar dat daar nie ‘n fisiese ruimte is waarheen Hy sou gaan nie. Dit klink te veel na “ongeloof”.

Die vroeë kerk het hierdie gebeure op ‘n mistieke wyse geïnterpreteer. Daarom is daar ook geen spanning by hulle oor ‘n letterlike plek waar Jesus nou verkeer nie. Dit is om die rede dat daar in die liturgie klem daarop geplaas word dat in die Nagmaal die hemelse en die aardse bymekaar uitkom. Kerk en hemel word dan dieselfde plek. Dit moet beslis nie letterlik verstaan word nie. In die Misterie – die Brood en die Wyn – word die hemelse “sigbaar”.

Die teks in Hand 1:11 is vir my betekenisvol in die verband: “Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”  Die eerste gelowiges kan nie die hele tyd na die hemel wil staar nie. Hulle verantwoordelikheid is hier en nou. Ons kan maklik ‘n obsessiewe met die hemel ontwikkel en van die hier en nou vergeet.

Ons sou ook kon vra of die “wolk” in Hand 1:9 ‘n letterlike wolk was, of het dit dalk eerder verwys na die Ou Testamentiese “Heerlikheid” (shekinah) van God? Wanneer jy na die ikonografie van die vroeë kerk kyk, is dit ook duidelik dat dit eerder die laaste bedoeling is, as ‘n letterlike plek.

Wat het Jesus dan gedoen met sy hemelvaart? Die skeur van die voorhangsel met sy kruisiging gee reeds die aanduiding dat daar ‘n nuwe bedeling na vore tree. Hiervan praat die Hebreërskrywer in Hebr 4:16 wanneer hy sê ons kan nou met vrymoedigheid na die genadetroon gaan. Christus het met sy menslikheid na die Vader teruggegaan en ons menslikheid met die Goddelike versoen. Christus het nie sy menslike natuur agter gelaat met Sy hemelvaart nie.

Die mens kry nou die geleentheid deur die hemelvaart om deel te kry aan die goddelike natuur (2 Petr 1:4). Ons word herstel in ons gemeenskap met die Vader. Die terugkeer van Christus na die Vader is die kulminasie van die versoening wat Hy bewerk het. Sy versoening word met die terugkeer in die Vader vir ons ‘n volmaaktheid. (Ek verkies om te praat van ‘n volmaaktheid, eerder as ‘n werklikheid. Werklikheid plaas ons weer in die ruimte van die letterlike en fisiese) Paulus praat ook hiervan in Kol 3:3: “Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” Vir die vroeë kerk was hierdie volmaaktheid in die sakrament van die Eucharistie gevier.

Dalk kan jy gedurende Pinkster hieroor mediteer.

Advertisements