Om te lewe

Thomas Merton skryf dat die oplossing vir die probleem van lewe, is die lewe self. Die lewe word nie verkry deur redenering en analisering nie. Die lewe word verkry deur te leef! Totdat ons nie ons onderskeidingsvermoë begin uitleef nie, het ons geen vertrekpunt waarmee ons kan werk nie. En, voordat ons nie misluk nie, het ons geen manier om ons sukses uit te werk nie.Merton

Onthou nou dat Merton baie bewus was van die feit dat om te lewe begin by God wat in ons lewe. In Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Sy argument is eintlik dat jy nie kan lewe, en daarby bedoel hy baie prakties, in hierdie wêreld en in hierdie lewe, as jy nie eerstens die lewe binne jou ontdek nie.  Die vermoë om werklik te kan lewe begin by Hom wat binne in ons lewe. Hom ontdek ek deur stilte en inkeer na binne.

Madame Guyon sou Merton antwoord deur te verklaar dat sy saamstem en dan byvoeg, dat hierdie proses van inkeer na God, leer jou om alles hier binne af te lê en oor te gee aan God. Hierdie proses leer jou egter ook wat werklik belangrik in die lewe is en wat jy maar kan aflê in die lewe. Onnodige goed wat jou vashou (Ja, dikwels letterlike “goeters”!).

Hierdie praktiese lewe, leer Biskop Siprianus (258 n.C.) die gelowiges in Kartago wat onder geweldige vervolging deur geloop het, bestaan uit ‘n lewe van geduld. Leef geduldig met liefde en verdraagsaamheid teenoor alle mense. Hierdie verdraagsaamheid het aan die een kant ingehou dat daar volhard was met stilte, gebede en die vier van die Nagmaal. Aan die ander kant het dit ingehou dat gelowiges volhard het om alle mense te versorg, of hulle Christene was of nie. Daarom dat die ongelowiges op straat deurgaan die opmerking gemaak het: “Kyk hoe lief het hulle mekaar!”

“Religion must be defended not by killing but by dying, not by violence but by patience.” (Lactantius 240 – 320 n.C) Geduld is die ware verdediger van ons geloof.