Wat glo ek of is dit eerder “Hoe glo ek”.

Hier teen die draai van die jaar, met teologiese debatte, kerklike gesprekke en lees van teologieboeke, het ek gedink dit kan goed wees, minstens vir myself, om net weer neer te pen hoe/wat ek glo. Dit is deels gevaarlik om jou geloof openlik te probeer verduidelik. Soos Dionusius die Areopagiet (einde 5deImage eeu) gesê het; God word slegs geken deur te ontken wat ons wel van Hom mag weet. Aan die ander kant word enige iemand  wat vandag dalk mag laat blyk dat hulle God, geloof, Skrif en kerk anders mag verstaan, onmiddellik verketter.

Hoe glo ek? Ek is in my teologie protestants, in my hart katoliek en in my gebede ortodoks. Hierdie drie-dimensionaliteit van my geloof in die Drie-enige God kan egter nie los van mekaar verstaan word nie. Dit speel in op die ander en beïnvloed mekaar.

Ek het teologie studeer toe die rasionalisme in Suid Afrika hoogty gevier het. Die Bybel is verstaan, tekste is histories-krities uitgelê en Christus het gesterf om ons van sonde te verlos en ons ‘n plek in die hemel te gee.  My blootstelling aan ander kerke, veral die ortodokse kerk, het my teologie verruim. Dalk het my verblyf in die kloosters in die woestyn in Egipte my ook meer beïnvloed as wat ek ooit sal besef. Dit was egter al met die nuwe verstaan van Calvyn waar ek skuiwe in my teologie begin maak het.

Die mistieke eenheid met God (Calvyn se Institusie II,xii,7 en III,xi,10), loop soos ʼn goue draad deur Calvyn se teologie. Eenwording met God is een van die uitstaande kenmerke van die mistiek. Ek het ook begin besef dat die Bybel ‘n mistieke spirituele teks is. Die histories-kritiese interpretasie van die Bybel hou vir my geen bedreiging in nie. Die doel van die spirituele teks is egter nie om vir ons wetenskaplike bewysbare waarhede te gee nie, maar om ons in ‘n verhouding met God in te trek waar omvorming kan plaasvind.

My katolieke hart maak ruimte vir ‘n verenigde kerk. Ek glo aan een heilige, katolieke kerk, die gemeenskap van die heiliges. Kerkeenheid was ‘n opdrag van Jesus Christus, of dit in ons dag sal realiseer, is te betwyfel. Kerkeenheid op makrovlak beteken dat ek by die Katolieke- en die Ortodokse Kerk kan leer. Hulle het my teologie en aanbidding verruim.

Christus se kruisdood is vir my baie meer as ‘n kaartjie hemel toe. Die mistieke eenwording het nou vir my meer belangrik geword as die hemel wat as prys wag. Christus het mens geword, sodat ons een kan word met God.  Hierdie eenwording is nie met Sy wese nie, maar met Sy krag of energie. God bly God en mens bly mens. God se krag is liefde. In die eenwording met Sy krag begin ek om deur die oë van Jesus die wêreld te sien. Ek sien al hoe meer pyn en nood wat op my die appèl maak om soos Jesus iets daaraan te doen.

My ortodokse gebede impliseer dat ek meer tuis is in gebede waar woorde ontbreek en dat kontemplasie deel van my Godsbelewenis uitmaak. Stilte kenmerk my gebede. Ek het ‘n verlange om die liturgie van die vroeë kerk te herontdek en maar net te droom van ‘n dag waar dié liturgieë weer in die NG Kerk sal weerklink. Ek twyfel egter of dit ooit sal gebeur. (Die Amerikaanse praise en worship-model het ons klaar oorrompel.) Die ortodoksie het my egter ook die skoonheid van aanbidding laat ontdek, daarom maak kuns, wat ikone insluit, deel van my aanbidding. God het (M)materie geword sodat ons Hom ook in materie kan sien.

God is in alles, alles is in God, maar alles is nie God nie. Nou moet ek egter “God” verduidelik en ek kan nie. Ek sal maar weer terug val op Dionusius en sy apofatiese praat oor God. God is te onderskei in sy wese en in sy energie. God kan nie geken word nie, maar Hy maak Hom deur Sy energie kenbaar. Laat ek egter nie in ‘n dogmatiese diskussie verval nie, genoeg om te sê God moet beleef word.

Advertisements