GELOOF EN MARS

Die Olimpiese spele het die landing op Mars ‘n bietjie in die agtergrond laat verdwyn. Ons is gefassineerd met die mens se prestasie op die atletiekbaan, tot so ‘n mate dat ons die prestasie van die Marslanding minder ag. Terwyl dit die mens 78 jaar geneem het (van 1896-1964) om die Olimpiese rekord vir 100 m van 12 sek. na 10 sek. te verminder, het dit hom 48 jaar geneem om die tyd van 10 sek na 9.63 sek. af te bring. Rofweg sou ons kon se dat die mens oor 100 jaar ongeveer 2 sek. vinniger geword het.

Die eerste maanlanding was in 1969 en nou 43 jaar later land die Curiosity, so groot soos ‘n Minnie Cooper op Mars. Daar was voorheen al kleiner tuie op Mars, maar hierdie is op ‘n ander skaal met nuwe tegnologie. ‘n Navorser by Nasa beweer dat dit 20 jaar sal duur voordat hulle ‘n bemande tuig na Mars sal stuur. Hulle uitdaging is om die mense te kan terug bring, wat nog nie moontlik is nie. Ek wonder of dit nie eerder gouer as later sal wees nie.

Wat het dit alles met geloof te make. Vir my as teoloog verwonder ek my met hoeveel kapasiteit, inherente potensiaal, God die mens mee gemaak het. Dit is egter ‘n belydenis: God het geskep. Wat sou egter met geloof gebeur indien die Curiosity lewe op Mars vind? Die Bybel verklaar tog baie duidelik dat daar net lewe op aarde is. Dit hang natuurlik daarvan af hoe jy die Bybel lees. Indien die Bybel vir jou die Wetenskapboek van alle Wetenskapboeke is, gaan jou geloof skade ly. Indien die Bybel egter ‘n geloofsboek is, ‘n Spirituele teks, dan kan jy rustig wees oor wetenskaplike ontdekkings van lewe op Mars, al dan nie. Die Bybel verduidelik in Gen 1 en 2, ook op ander plekke soos die Psalms en Job, dat God die Skeppergod is. Die Bybel verduidelik nie hoe, bedoelende wetenskaplik hoe, God geskep het nie.

Ons kan uit die Bybel wel tot die besef kom dat God planmatig, ordelik en liefdevol geskep het. Die grootste wonder is dat God herskep, nuut maak en mense kan omvorm. Deur die liefdevolle krag van sy Gees, deur die Misterie van Christus wat voor alle tye saam met God bestaan het, bring Hy nuwe lewe in mense. Die Misterie van God kan met geen wetenskaplike ontdekkings ongedaan gemaak word nie. Wetenskaplike ontdekkings bevestig dat Bybelskrywers kinders van hulle tyd was, dat Bybelskrywers die Misterie van God in hulle leefwêreld beleef het soos ons Hom beleef. Hulle leefwêreld, wat in die Bybel na vore tree, was egter anders as ons leefwêreld.

Vir die leefwêreld van die Bybelskrywers was mikroskope nie beskikbaar nie, daarom is die mosterdsaad die kleinste (Mat 13:32). Vir die leefwêreld van die Bybelskrywer was wetenskaplike kennis beperk en het hy nie kontak met die Chinese gehad nie. Daarom draai die son om die aarde en staan die aarde op pilare (Job 9:6).

Ons leef in ‘n wonderlike wêreld waar die Misterie van God steeds ‘n realiteit is. Dat ons in die toekoms dalk nog anders oor die Bybel sal dink, is heel moontlik. Die Misterie van God sal egter altyd ‘n realiteit wees. Ook vir ons kinders wat dalk eendag op Mars gaan woon. Ps 46:10 Be still, and know that I am God: I will be exalted among the heathen, I will be exalted in the earth. (KJV)

http://mars.jpl.nasa.gov/msl/index.cfm

Advertisements