Oskar en die pienk tannie

Ek het gister vertel van my belewenis van enkele van die toneelstukke wat ek by Aardklop gesien het. Oskar en die pienk tannie was die ander stuk wat my aangegryp het. Dit handel oor ’n 10-jarige seuntjie, wat 12 dae het om te leef, se briewe aan God.  Sandra Prinsloo speel die seuntjie van tien asook die pienk tannie wat hom daagliks besoek.

“Liewe God, My naam is Oskar, ek is 10 jaar oud, ek het die kat en die hond in die huis aan die brand gesteek, en dis die eerste brief wat ek aan jou stuur, want ek het nie voorheen tyd gehad nie. Ek moes leer”.  So begin die toneel. Oskar het in ‘n huis groot geword waar geloof nie regtig ‘n rol gespeel het nie. Nou is hy sterwend in die hospitaal. Hy weet hy het net twaalf dae oor. Die pienk tannie raai hom aan om briewe vir God te skryf. Sy moedig hom ook aan om die twaalf dae te lewe deur o.a. sy liefde vir ‘n ander dogtertjie in die saal te verklaar en op te staan teen ‘n ander kêreltjie  wat sy meisie wil vat. Sy vermaak hom met stories oor hoe sy ‘n rofstoeier was en die lesse van die lewe wat sy daaruit geleer het.

Ouma Rosa, die pienk tannie,  begelei hom op verbeeldingryke en soms bitter snaakse wyse in sy laaste dae. Die aangryplike is die laaste brief van Oskar  wat na sy dood op die bedkassie gevind word. Hy gaan nou slaap, skryf hy, en niemand mag hom wakker maak nie, behalwe God. Ouma Rosa, wat ook gewonder het oor haar sin in die lewe, dank God dat daar iemand was, Oskar, wat haar lief gehad het en vir haar soveel omgegee het en beteken het.

Weereens wonder ek oor geloof en die sin van sterwe. Geloof en dood is in ‘n sekere sin so naby aan mekaar. Ons kan dit so maklik sinloos ervaar wanneer ‘n kind moet sterf. Miskien moet ons juis gaan kyk hoe sterf kinders. My idee is dat hulle makliker die lewe agter laat, makliker vashou aan die misterie van God. Hulle is minder begaan oor “my hartjie vir Jesus gee sodat ek tog gered kan word”.

Ouma Rosa se teologie is in ‘n seker sin verruimend. God is daar, ja so naby soos die brief. Skryf die brief, God hoor, God is die een wat jou in ‘n nuwe realiteit sal laat wakker word. Geen teologie van skuldgevoelens, straf of veroordeling oor Oskar se vrae en sy ouer se “ongeloof” nie, nee ‘n teologie gevul met omgee, liefde en sin vind in die dood van die ander.

Wat het ek by Oskar geleer? Moenie te krampagtig aan die lewe vashou nie. Leef nou voluit, al is dit net twaalf dae. Indien jy nie meer kan vashou nie, die geloof verloor het, ontspan God hou jou vas.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s