Onderhoud met Vr Lazar Puhalo Ortodokse Kerk in Kanada

Hierdie onderhoud het ek nie probeer verbatim weergee nie. Beskou dit as ʼn losse vertaling of transkripsie. Kyk die videogreep om regtig te hoor wat hy sê. Fr Lazar Puhalo

Moraliteit as kettery

Fundamentaliste wil graag geloof na ʼn morele kode of eksterne aanvaarbare gedrag reduseer. Hierdie morel kode vervang dan die inherente verhouding met Jesus Christus. Die morele kode word ʼn plaasvervanger vir die lewe in Christus of ʼn plaasvervanger vir die om omvorming van die hart deur Christus. Dit is kettery. Enige iets wat ons op ʼn pad vat van hoogmoed en veroordeling is kontra die lering van Christus. Dit is kettery.

Wanneer ʼn sosiale probleem gemoraliseer word, is daar geen kans dat dit opgelos kan word nie. Wanneer, bv. prostitusie gemoraliseer word dan is hulle, die  prostitute, sondaars. Jy kan nie anders as om neer te kyk op hulle nie. Wanneer jy egter van uit Christus se gesigshoek na hulle kyk dan is ons eerste verantwoordelikheid hulle veiligheid en verder ʼn morele verantwoordelikheid om vir hulle ʼn alternatief te bied. Die implikasie van die alternatief sal ook verduidelik moet word. Dit is baie moeiliker as om net af te kyk op prostitute en hulle af te skryf as ʼn klomp sondaars. Deur prostitusie te moraliseer, word kommunikasie met die prostituut af gesny. Jy plaas jou voet net nog harder op hulle koppe om hulle te vertrap as ʼn morele euwel.

Die bedoeling van godsdiens, vanuit Jesus se bediening gesien, was nooit om ʼn morele kode te wees waarmee mense gemanipuleer word nie. Jesus se optrede spreek van ʼn medelydende liefde. Medelydende liefde beteken ek sien myself in die ander. Ek sien my eie worsteling en lyding in die lyding en worsteling van die ander. Medelydende liefde beteken ek strek my uit na die ander en probeer om hulle op te hef sodat daar omvorming van die hart en die persoon kan plaas vind.

Wetenskap en geloof

Wetenskap en geloof hoef nie in botsing met mekaar te wees nie. Westerse godsdienstige denke is meer male in botsing met wetenskap. Die rede hiervoor moet gesoek word in die skolastiek. Ortodokse teologie is eksistensieel en kan daarom met o.a. die wetenskap in ʼn kreatiewe manier omgaan. In kwantum fisika sal die wetenskaplike vir jou verduidelik dat hy nie realiteit aan jou probeer voorhou nie, maar modelle van realiteit. Dit geld eintlik vir alle aspekte van die lewe. Wanneer ons besef ons kan net modelle van realiteit aan mense voor hou en nie realiteit self nie, kan ons gedurig aanpassings aan ons modelle maak. So groei ons in verstaan van realiteit en kan ons die evangelie op toepaslike maniere aan mense bring midde in hulle modelle van realiteit.

Ons maak ʼn fout deur te dink dat ons model van realiteit is die enigste of korrekte model. Galileo het die model van realiteit van die Katolieke kerk bevraagteken en moes daarom met sy lewe boet. Die kerk het gemeen sy model is die enigste realiteit. Met Galileo se ontdekking het hy egter die model van die Katolieke vir ewig verwerp. Die tragiek was dat die Katolieke kerk nie net sy eie model van realiteit tot die absolute waarheid verhef nie, hy het ook gemeen dit is dogma. Ongelukkig het die kerk nie kon insien dat sy beperkte kennis oor die heelal aan hom ʼn bepaalde manier van interpretasie van die bestaande realiteit gegee het en dat dit steeds net nog ʼn model van die realiteit was nie.

Sonde en verlossing

Ateïsme is nie ongeloof in God nie, maar die verwerping van die Westerse god. Die Westerse god is ʼn gewelddadige god. Die inkwisisie is hiervan ʼn voorbeeld. Sonde is om die doel te mis waarvoor die mens geskape is, dit is om ewigdurende lewe te hê deur eenheid met God. Enige iets wat jou dus van hierdie eenheid vervreem is sonde. Sonde is ʼn vermorsing van die mens se energie. Sonde is ʼn siekte wat genees moet word. Sonde is dus eerstens lyding. Hierdie lyding neem my op ʼn weg waar ek al hoe meer dit doen wat die eenheid tussen God en my net meer verskeur. Heling is dus nodig. Om na iemand te kyk en te besef daardie persoon ly, bring ander emosie en reaksie na vore as om te verklaar daardie persoon is ʼn sondaar. Die misterie van verlossing is die mede-lyding van God met mense in Jesus Christus.

Dit gaan dus nie om Christus wat gesterf het om die juridiese geregtigheid van die woedende God te laat geskied nie. Christus het ons lyding op Hom geneem. Hy identifiseer met die lyding binne die mens en neem dit weg. Om met sonde te deel moet daar helend met mense omgegaan word. Christus het mense kom heel maak, sodat hulle een kan wees met die Vader. Christus de bediening op aarde was ʼn helende bediening en nie ʼn juridiese ekspedisie nie.

Die boodskap van versoening deur bloedvergieting of offers het eers in die elfde eeu onder Anselm van Kantelberg na vore getree. Voor hom het Augustinus van Hippo en Tertulianus hierdie versoeningsleer uitgewerk. Hiervolgens word verlossing ʼn juridiese daad waar daar vir sondeskuld betaal moet word. Christus word dan hierdie offer wat betaal om God tevrede te stel.

Vr Lazar Puhalo probeer om godsdiens op ʼn nuwe vars manier aan ʼn jonger generasie bekend te stel. Hierdie generasie het hulle rug gedraai op die (Westerse) god soos wat hulle dit deur die tradisionele kerke ontvang het. Hy verwerp veral die woedende-god konsep wat moet vergeld en met ʼn offer tevrede gehou word. Jesus het met sy medelydende liefde die harte van mense binne gedring en hulle van binne genees. Sy bediening was ʼn bediening van medelydende liefde.

Konklusie

Die vars benadering, vir my as protestant, was nuut en het goed op my geloofs-oor geval. Ek het groot waardering vir Augustinus, maar selfs in die protestantse tradisie is daar teoloë wat sy leer oor versoening en erfsonde bevraagteken. Ek sou graag met Vr Puhalo in gesprek wou gaan oor modelle van realiteit want ek meen hy bedoel ook modelle van waarheid, wat natuurlik vir die fundamentaliste ʼn doodsteek sal wees. Die wyse waarop hy oor moraliteit as kettery praat, het reeds in baie van ons geloofsgemeenskappe ingesluip. Trap die sondaar en wys die sondaar op hulle verlorenheid. Wanneer ek dit reg gekry het, is ek reg en hoef ek niks met die sondaar te maak nie. God sal met hom of haar deel. Dus, ek hoef nie met alles saam te stem nie, maar baie van dit wat hy sê resoneer met my.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s