Die kuns van biddende lees – die terugkeer van die verlore seun

Ons het by ʼn vorige keer gepraat oor He-Qi wat Christus aan die Chinese met sy kuns wil bekend stel. Vandag kyk ons na sy moderne ikon oor die terugkeer van die verlore seun. Die teks waarmee hy werk is natuurlik die uit Lukas 15:11-32. Daar is verskeie ingrypende oomblikke in die teks. Besef ons, byvoorbeeld, hoe radikaal die jongste seun se terugkeer na die vader was. Hy sit tussen die varke, dood van die honger. Hy is egter so vervreemd van alles en almal dat hy nie eens sy hand kan uitsteek om van die peule te eet nie. Hy hoop steeds iemand sal iets vir hom doen. Die liefde van die vader-huis dring hom egter om tog op te staan en terug te gaan.

Die ikon beeld nou die oomblik uit waar pa en seuns ontmoet; Die jongste aan sy voet, die oudste pas terug van die land. Wat vertel He-Qi se teks vir ons? Die oudste broer was woedend. Kyk hoe doen He-Qi dit. Die bul is so kwaad dat hy sy tande wys. Die bul kom egter uit die oudste seun. He-Qi toon pragtig die woede in die oudste seun. Die bul kyk na jou en my! Ons word met die bul binne ons gekonfronteer. Waaroor is ons dan so woedend-kwaad?

Die jongste seun en die pa smelt byna in een. Kyk na die lyne tussen die pa en seun. Die pa hou hom, wat niks verdien nie, vas en druk hom nog styf teen die bors. (Dalk is dit ook ons woede hier binne ons, dat God genade kan bewys aan mense wie dit nie, volgens ons, verdien nie).

Die ikon vertel egter ook iets van ʼn eenheid wat die pa met die oudste seun deel. Ten spyte van die oudste se woede, lyk dit of die pa die bul aan die een horing beet kry. Die pa wil die woede temper. Die pa wil aan die seun die mooi lande agter wys, die lig wat uit die huis straal wat beide die seuns aantrek en binne nooi – die vreugde van pa se huis is vir almal. Daar is egter ʼn donker buite-kamer met ʼn oop deur, is dit waar die oudste seun hom bevind, so naby die vreugde van die pa se huis, maar tog ook so ver. Twee huise wat ook vir jou en my vra: “Wat kies ek vandag?” Die onheilspellende donker maan en son agter vra watter lig gaan ek vandag uitstraal; die van hoop, vreugde en blydskap omdat ek die liefde van die Vader ken en beleef, of die donker halwe maan se lig wat die bul in my wakker maak?

“Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune.”

Advertisements