Die mees ongewone ding wat ‘n mens kan hoor? (Oor Tutu)

In die Engelse Sondagkoerant van vandag (2 Okt 2011)  is daar ‘n berig oor die viering van Emeritus Aartsbiskop Tutu se 80 ste verjaardag.

Een van die kwessies wat met sy verjaardagviering na voer gekom het, is natuurlik die regering se versuim om ‘n visum aan die Dalai Lama uit te reik om die sleutel-toespraak te kom hou. Dit is nou die regering wat ook danksy die aartsbiskop se jarelange verbete stryd teen rassisme aan die mag gekom het en blykbaar nie weet watter gewetenskuld hy aan hierdie dapper tagtigjarige leier verskuldig is nie.

Maar hieroor wil ek nie skryf nie. Daar is iets anders in die berig wat my bybly en wat vir my iets vertel oor waarom die aartsbiskop in geselskap van die grotes en die belangrikes van die aardbol is. Hy is die gewete van baie mense en leiers. Dit terwyl hulle weet dat die aartsbiskop nie altyd ‘n maklike mens is nie. Een van sy belangrike vriende noem hom selfs die “pyn in die agterkant” van sommige mense.

Die berig gaan oor ‘n bekende joernalis wat tans ‘n boek oor hom skryf en wat dus allerhande ongewone dinge oor hom wil uitvind om die boek interessanter en nuuswaardiger te maak.

Die joernalis reis dus saam met Tutu na Darling om te kuier by Pieter-Dirk Uys, wat ‘n groot vriend van Tutu is.

Hulle ry al die pad Darling toe met Tutu se klein Toyota. Hieroor is die joernalis, Sparks, al verwonderd. Hy skryf as ‘n terloopse opmerking dat die aartsbiskop nie belang stel in ‘n blink kar nie. Hy is tevrede bloot net met ‘n gewone ryding wat hom by sy bestemming kan uitbring.

Op pad terug van Darling wil die joernalis begin om Tutu uit te vra.

Hy wil mos nou meer dinge uitvind vir sy boek. En hy maak hom reg vir ‘n intense gesprek gedurende die lang reis terug Kaapstad toe wat wag.

En toe kry hy inderdaad die mees ongewone antwoord wat hy ooit sou kon kry.

Die aartsbiskop knip sy vrae kort toe hulle uit Darling wegtrek en Sparks begin om hom uit te vra.

“Ek is jammer” laat hoor hy, “maar as ek in my motor is, bid ek.” Meer nog: die aartsbiskop haal sy Bybel uit. En, voeg die joernalis by, daar sit hulle ‘n hele uur lank in stilte.

Die aartsbiskop is min gepla oor die joernalis se boek. Selfs al gaan die boek oor homself. In sy ervaring is dit bloot ‘n boek. Ander dinge is belangriker. Of, dalk moet ‘n mens opmerk: van alles bly gebed vir hom die belangrikste.

Pragtig is die slot van die berig.

Die Sunday Times, lyk dit vir my, kan nie eintlik die saak peil nie. Hulle wil bietjie dieper op die storie ingaan. Dit lyk of hulle wonder: Is dit nie dalk een van daardie geisoleerde gevalle waar ‘n besige man op ‘n dag ‘n uurtjie vir homself wou gehad het nie? Is daar nie dalk ‘n ander rede vir hierdie een keer se gebid in die motor op pad van Darling nie?

Die koerant volg dus die berig op en vra ‘n woordvoerder van die aartsbiskop daaroor uit. Hoe kan die aartsbiskop ‘n uur lank in stilte saam met ander in ‘n kar sit en bid?

En weer eens kry ‘n mens ‘n ongewone antwoord.

Dit is so, laat weet die woordvoerder, en dit is nie ongewoond nie. Die aartsbiskop doen dit dikwels. Hy doen dit byvoorbeeld wanneer hy vlieg. Hy lees, vertel die woordvoerder, sy Bybel totdat die vliegtuig land.

Ek bedink die berig ‘n bietjie noukeuriger.

Ek vermoed die koerant mis eintlik die punt wanneer hulle skryf Tutu lees die Bybel wanneer hy vlieg. Tutu vertel immers aan die joernalis dat hy in die motor bid en die Bybel gee vir hom die materiaal om te bid.

Dit is waar spiritualiteit aan die orde kom. In beleefde geloof speel lectio divina ‘n kern-rol. En in Lectio divina – daardie proses van geestelike lees van die Bybel, is ‘n kernmoment die oratio, die oomblik wanneer ‘n mens se nadenke oor die Bybel in verlange omslaan.

Dit is tog die lewensstyl van ‘n gelowige. Ja, sekerlik is dit ‘n dissipline, maar in die dissipline sit die besef dat ‘n mens niks kan doen as ‘n mens nie biddend en verlangend in die dieper dinge gewortel is nie.

Al hierdie spirituele dinge kom op uit die hart van ‘n honger mens – selfs hulle wat in die geselskap van die grotes allerhande “groot” dinge kan beleef. Hulle weet te goed dat die groot dinge maar gewoon is. Dit is die ongewone dinge wat ‘n mens se lewe ryk maak.

Geloof vind sy vreugde in die ongewone, in daardie tye van stilte, gelaai met verlange na God.

Deur Pieter G R de Villiers Sunday, October 02, 2011 http://pietergrdevilliers.blogspot.com/

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s