TYD?

Interessante statistieke kom nou na vore na die aardbewing Japan getref het. Die aarde draai inderdaad vinniger, tyd is korter omdat ‘n dag korter is. http://www.space.com/11115-japan-earthquake-shortened-earth-days.html Dit alleen bring ‘n klomp gedagtes by my op. Leef ons dus nou vinniger en dus ook korter? Maak dit ‘n verskil? Vir baie mense maak dit geen verskil nie. Soos dit is, is hulle lewe gevul met niksseggende onbenullighede wat hulle as uiters belangrik beskou. Dit is sake soos harde werk, goeie inkomste, spaar vir die ou dag en dan aftree en gemaklik kan leef.

Ek is bevrees dat hierdie denke diepgewortel in ons wese sit. Kinders moet studeer sodat hulle ‘n beroep kan volg wat ‘n goeie inkomste verseker. Met studie is daar nie fout te vind nie, dit laat die ekonomie draai en bring breinkrag na die tafel. Die probleem is dat vir baie is dit nie die breinkrag nie, maar die geld. Ons vergeet dat dit nie die geld is wat die verskil in die wêreld, en in jou lewe, maak nie, maar breinkrag – die vermoë om kreatief te kan dink.

Wat het die twee sake nou met mekaar te doen; kreatiewe denke en tyd wat vinniger verby beweeg? Die antwoord: Meditasie! Meditasie laat jou in die oomblik leef. Dit is om God hier en nou as ‘n realiteite te beleef. Bitter min mense het beide die ervarings, om hier en nou in die oomblik sinvol te kan leef en om God as ‘n realiteit hier en nou te kan beleef. Meditasie het ‘n verdere gevolg; verbeterde breinkrag. Daar is nou al telkemale gewys op die invloed van meditasie op die brein, behalwe vir verlaagde bloeddruk en spanning, vergroot dit die brein se kapasiteit tot beter  denke. Sien http://well.blogs.nytimes.com/2011/01/28/how-meditation-may-change-the-brain/ en http://www.time.com/time/printout/0,8816,1879016,00.html

Dus, my raad, terwyl tyd al hoe vinniger afloop: Leef stadiger, mediteer meer en hou op om net aan eendag te dink. “….maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.” (Rom 12:2). Indien jy meer oor meditasie wil weet gaan kyk by http://www.wccm.co.za/afrikaans/how_to_meditate.php en ook http://www.wccm.org/content/what-meditation

 

 

 

Leave a comment