Mark S. Smith, The Memoirs of God: History, Memory and the Experience of the Divine in Ancient Israel (Minneapolis: Fortress Press, 2004).
Ek is gefassineer deur Smith se verduideliking oor die ontwikkeling van die een God wat ons aanbid aan die hand van Iseau se geskiedenis. Wat verder in sy boek baie sterk na vore kom is die herinterpretasie van die geskrifte deur die eeue. Dit laat my net weer besef dat dit so belangrik is om te verstaan dat die Bybel nie net in een volume na ons gekom het nie, maar dat redakteurs oor jare aan die geskrifte gewerk het, bygewerk het en geherïnterpreteer het. Om dit oorvereenvoudig te stel; lees die Ou testament van agter terug na Genesis.
Icons as a means of grace: John W De Gruchy
Ek het John en sy vrou ontmoet toe ons saam in 1997 op ‘n ekumeniese besoek in Egipte was. Dit is daar waar my eie pad met die misterie en spesifiek ikone begin het. In hierdie boek skryf John gemaklik uit die Protestantse hoek oor ‘n saak wat totaal onbekend is aan ons gereformeerdes – Ikone! Ek dink hy het dit pragtig saamgevat en dit is regtig ‘n boek om te lees, veral nou dat simboliek in ons kerk herleef en daar veral weer na ikone gekyk word. Ikone word nie geverf nie, maar geskryf. Jy lees ook nie die ikon nie, maar die ikon lees jou. Ek is al hoe meer daarvan oortuig dat ikone jou gebedslewe en spesifiek jou stilte kan voed. Jy sal egter iets van die teologie agter dit moet verstaan, nl. God is ‘n God van die lewendes: Lukas 20:34-38 Jesus sê vir hulle: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie. Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’. Hy is nie ’n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.”
—————————–OOOOOOOOOOO———————————————–
Ek is ook besig om die Reël van Benediktus te lees. Dit kan jy Google, daar is ‘n magdom vertalings op die web beskikbaar. Hier is sommer iets oor die DIE LEWENSREËL VAN BENEDIKTUS
Benediktus is in 480 n.C. gebore. As jong man besluit hy daar moet meer diepte in die lewe wees en ontrek hom om alleen te gaan woon. Sy doel was om die betekenis en sin van die lewe te gaan soek deur daagliks net met God besig te wees. Nie lank nie, of ander gelowiges wat ook met die kerk in besonder en die samelewing in die algemeen, teleurgesteld geraak het, sluit by Benediktus aan. So ontstaan die klooster “Monte Cassino” in die Italië. In die kloosters word tyd spandeer aan gebede, die bestudering van die woord en handewerk. Kloosterlinge het ook die keuse of hulle in die omgewing wil gaan help met siekesorg ens. Benedictus skryf nou ‘n eenvoudige dokument oor die funksionering van die klooster (Die reël van Benedictus). Die dokument groei so in gewildheid dat verskeie kloosters die “reël” begin navolg. Wat nou interessant is, is dat gelowiges vandag weer die “reël” begin lees en waarde daaruit put oor hoe gelowiges in hierdie dag van vervlakking nuut met God kan leef.
As deel van die inleiding skryf Benedictus: “Laat ons dan eindelik ten laaste opstaan, want die Bybel se wekroep kan nie meer geignoreer word nie. En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. (Rom 13:11). Laat ons ons oë oopmaak vir die lig wat van God uitstraal en ons ore vir die stem wat alke dag uit die hemele tot ons roep: As julle vandag maar na Hom wou luister: “Moenie hardkoppig wees…nie”(Ps 95:8). En weer: Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. (Rev 2:7). Wat is dit wat die Gees vir ons sê? Kom, kinders, luister na my! Ek wil julle leer hoe om die Here te dien.(Ps 34:12). Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. (Joh 12:35).
Wat sou Benediktus ons vandag wou leer, eintlik maar deur die samevoeging van ‘n klompie teksverse? Ek dink hy wou sê die lewe is kort, moenie tyd mors nie. Hoe laat is dit in jou lewe en waarmee is jy besig? Het dit regtig waarde. Die waarde van die lewe is opgesluit in die Woord van God en om my met die Woord na God te haas. Hardloop na die Lig en hoor God se roepstem wat vandag vir jou sê “My kind ek verlang na jou”. Baie prakties sou dit seker ook kon beteken dat ek vroeër opstaan ter wille van my dissipline van stilte. Hou jy nog by jou meditasietyd of het jy moed opgegee?
1. Die Lewensreël van Benediktus2. Benediktus se lewensreël – Waarom?
“Paulus het geweier om enige krediet vir die krag van sy prediking te neem. Hy verklaar: Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is. (1Kor 15:10). En verder: Maar die Skrif sê: “Hy wat roem, moet in die Here roem.” (2 Kor 10:17). Daarom staan daar ook in die evangelie: “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. 2Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.” (Mat 7:24-25).”
Wat sou Benediktus sy medereisgenote hiermee wou leer? Ek vermoed hy wil aan hulle leer dit wat die hervormers soos Luther en Calvyn baie jare later so sterk klem op gelê het, nl. die genade van God. God is nie iets wat bereik moet word in hierdie of die volgende lewe nie. Hy is ‘n teenwoordigheid waarop gereageer moet word. Sy teenwoordigheid maak dit juis moontlik om op Hom te kan reageer. God is die asem wat ons asem. Dit is te danke aan God dat ons enige idee van God het. ‘n Prediker het in ‘n dorpie rond geloop en geroep: “Julle moet God in julle lewe in nooi!”, soos ons mos vir die kinders leer; “Nooi Jesus om in jou hart te kom woon.” (Die gedagte dat ‘n mens jouself kan red is deur die kerk al selfs voor die reformasie verwerp en met Luther se hervorming opnuut verwerp). Toe het ‘n wyse ou man in die dorp gesê: “Ons taak is nie om God in ons lewens in te nooi nie. God is reeds daar. Ons taak is om dit te besef en tot aanbidding te kom”. God is hier en nou. Jy is of in die verlede, of in die toekoms, of besig met dagdrome. God sê ek wil jou hier en nou ontmoet. Stilte – meditasie is een van die geestelike dissiplines wat ons beoefen om dit te bewerkstellig, ‘n ontmoeting met God, hier en nou.
Benediktus verduidelik dat hy nie hoop dat mense die reël as iets swaar of moeilik sal beskou nie. Dit is vir almal se beswil, al lyk dit of dit soms streng is. Die doel is om foute reg te stel en om die liefde te bewaar. “Moenie daardeur afgeskrik word en sommer op die vlug wil slaan nie. Dit is ook deel van die pad van verlossing. Dit sal nou wees met die wegspring. Soos ons egter hierdie pad van die lewe en geloof bewandel, sal ons agterkom ons hardloop op die pad van God se gebooie met hart wat oorvloei met onbeskryflike vreugdes van liefde. Moenie van God se instruksies afwyk nie, bly tot die dood toe getrou aan God se onderrig. Met geduld sal ons deel aan die lyding van Christus sodat ons ook eendag sal deel in Sy ewige teenwoordigheid.”
Ek meen Benediktus wil met hierdie reël vir ons leer dat die geestelike lewe ook te make het met geestelike dissipline. Geloof is iets wat geleer moet word en geïnternaliseer moet word. Dit is egter nie net ‘n klompie daaglikse geestelike oefeninge nie, maar ‘n manier van lewe, ‘n ingesteldheid, ‘n nuwe oriëntasie van my gees. Iemand het eenkeer aan sy leermeester gevra: “Wat kan ek doen om deel te kry aan God?” Die wyse leermeester het geantwoord: “Daar is twee reëls wat jy moet gehoorsaam. Die eerste reël is; alles wat jy doen om deel te kry aan God is vrugtelose pogings van jou kant af. “En die tweede?” het die leerling gevra. “Die tweede is jy moet lewe of jy nog nooit van die eerste reël gehoor het nie.” Om uit genade gered te wees is om te die geestelike lewe so te leef dat dit later ‘n werklikheid in jou word vir almal om te sien. Die lewe is kort. Met geestelike dissipline, Benediktus se reël as jy wil, kan jy dalk meer in jou geestelike lewe insit juis sodat jy meer van die vreugde van God kan smaak. Wil jy nie begin met die dissipline van meditasie nie?
3. Die wet van gemeenskap
Benediktus beskryf in sy reël die verskillende grade van monastieke lewe. Hy verduidelik hoe verskillende soorte monnike hulle lewe moet lei. Vir ons moderniste is net die woord “monnik” ‘n vreemde konsep. Ons dink dit is mense wat hulle van die samelewing ontrek het en bietjie vreemd lewe. Ons reageer ook gou om te sê dat God ons tog nie uit die wêreld roep nie maar juis om ‘n verskil te maak in die wêreld. Tog wanneer jy vir gewone gelowiges vra wat jy moet doen om vandag heilig te lewe, dan antwoord mense juis dat dit seker behels om lang ure alleen in gebed deur te bring, om jou te ontrek, om op jou eie te wees. Dit is juis wat die reël van Benediktus nie leer nie. Heiligheid en geestelike groei kom juis nie op jou eie nie. Dit gebeur in gemeenskap, saam met ander. Benediktus leer dat saam aanbid ons, saam raak ons stil by die Here, saam maak ons ‘n verskil, saam is ons gasvry. Die realisme van sy reël is om juis te leer dat slegs wanneer jy oud geword het, geestelik saam met ander gegroei het, jy slegs dan alleen in afsondering mag gaan. Dan het jy ‘n mate van geestelike volwassenheid bereik wat jou staande kan hou. In ons eie lewe kan ons maar die reël gehoorsaam. Natuurlik is daar tyd nodig vir stil word en ontrek, maar altyd om weer terug te kom en te kom deel wat jy by God gehoor het. Saam is ons beter, saam maak ons ‘n verskil, saam met ander groei ek op my beste. Waarom is jy alleen? Waarom het jy jou afgeskei van die gemeenskap van gelowiges? Roep die Here jou nie juis terug na ‘n meditasiegroep nie? Moet jy nie dalk so ‘n groep begin nie?
4. BENEDIKTUS EN KERKLIDMAATSKAP
Benediktus skryf vroeg in sy Lewensreël oor die verskillende soorte monnike wat jy gekry het. Die meeste monnike was manne wat hulle hele lewe aan God gewy het deur in ‘n gemeenskap te gaan woon waar alles in eenvoud gedeel was. Die ritme van die dag was bepaal deur die gebede. So was die monnike bv aangesê om 18:00 te gaan slaap (onthou ons praat van ‘n tyd toe die daaglikse roetine sterk deur die son bepaal was.) Hulle moes dan weer om 02:00 opstaan vir gebede en bestudering van die skrif. 06:00 het die dag begin met die verskillende soorte werk wat verrig moes word. Werk sou afgewissel word met vasgestelde gebedstye. Die geloofsgemeenskap was op mekaar aangewes vir ‘n ordelike lewenswyse. Wie nie wou werk nie, mag ook nie geëet het nie. Nou ontstaan daar egter in die tyd die gebruik dat “vroom” monnike nie in hierdie geordende samelewings wil bly nie, maar wil rondswerf tussen kloosters en dorpe. Hulle het verwag almal moes hulle ontvang en na hulle omsien omdat hulle ‘n sodanige heiligheid gehad het. Geen klooster was goed genoeg vir hulle nie. Benediktus sê ons moet egter nie eers oor hierdie monnike praat nie. Hulle gedrag was skandalig. Hulle wou onder geen gesag staan nie en hulle het die stem van die Heilige Gees met hulle ego verwar. Dit laat my so dink aan lidmate wat tussen gemeentes rond trek. Orals kyk hulle waar hulle iets “geesteliks” kan kry. Nooit tevrede met enige geestelike tuiste nie en het gevolglik ook geen verantwoordelikheid teenoor enige gemeente nie. Daar is natuurlik baie redes daarvoor, maar ek dink ons verantwoordelikheid lê by die gemeente om eers reg te maak dit wat ons dink verkeerd is en dan aan te beweeg.
5. Benediktus en leierskap
Benediktus was nie bang om kritiek op homself te lewer nie. As hoof van sy klooster was hy in ‘n besondere posisie. In hoofstuk 2 skryf hy egter soos volg oor hierdie leierskap: “Om die taak as hoof van ‘n klooster waardig te wees, moet die vader van die klooster altyd onthou wat die posisie simboliseer en daarvolgens handel. Hulle, die vader van die klooster, verteenwoordig Christus, daarom mag hulle nooit iets leer wat van God se instruksies afwyk nie. In teen deel alles wat hulle ander leer en beveel moet soos die suurdeug van goddelike regverdigheid wees, dit moet die harte van die gemeenskap deursuur.” In die sesde eeu sou hierdie soort leierskap vir die gemiddelde Romeinse burger vreemd wees. Hulle het hoofmanne geken, onregverdige grondeienaars en harde slawedrywers. Ek dink ons kan ook weer vandag kennis neem van die soort leierskap wat Benediktus aan homself en ander in leiersposisies voorgehou het. Juis in die kerk behoort leierskap anders te lyk as in die wêreld. As leier in die geloofsgemeenskap verteenwoordig jy Christus. Jy is dus eerstens ‘n geestelike leier. Jy moet geestelike leiding gee aan die wat jy wil hê jou moet volg. Jy moet weet dis nie die mate waarin jy leiding gee wat die groep soos ‘n geloofsgemeenskap sal laat lyk nie, maar die mate waarin jy jou lewe deur God se Gees laat lei. Inderdaad moet die leier toesien dat die ritme van die geloofsgemeenskap nie versteur word nie. En die een manier hoe dit in die kloostergemeenskap gebeur het, was dat die vader van die klooster moes waak oor die ritme van die gebedslewe. Ware leiers is manne en vroue wat baie tyd op hulle knieë in stilte deurbring en ander na stilte kan lei.
Benediktus: Leierskap en gedeelde verantwoordelikheid
Benediktus skryf verder in hoofstuk twee van sy Leer: “Die vader of moeder van die klooster moet onthou dat God nie net oor hulle lering en leiding sal oordeel nie, maar ook die gemeenskap se mate van gehoorsaamheid sal onder die soeklig kom.” Hy verduidelik verder dat die hoof van die geloofsgemeenskap alles in hulle vermoë moet doen om toe te sien dat daar ‘n ordelike geloofsgemeenskap tot stand kom. Hulle kan egter nie aanspreeklik gehou word indien die geloofsgemeenskap aanhou om hulle eie kop te volg nie. Hierdie tipe leierskap was unik vir Benediktus se tyd. Daar word nie na leierskap binne die geloofsgemeenskap gesoek wat as drywer op tree nie, maar na ‘n persoon wat leiding neem. Daar is egter altyd gedeelde verantwoordelikheid. Die leier moet lei volgens die voorbeeld van Christus. Die geloofsgemeenskap moet volg soos in afhanklikheid van Christus. Beide het aanspreeklikheid ten opsigte van mekaar. Net soos die leier volgelinge op swak gedrag moet wys, so moet volgelinge swak gedrag by leiers uitwys. Ook hier dink ek kan ons in die geloofsgemeenskap maar ook in die breë samelewing by Benediktus leer. Ons moet aanspreeklikheid teenoor mekaar aanvaar. Ons leef egter in ‘n tyd dat selfs die Kommissie vir menseregte nie heethoofde kan vasvat nie. In die geloofsgemeenskap behoort dit anders te wees. Waar die Gees in liefde regeer, is aanspreeklikheid een van die kenmerke binne die geloofsgemeenskap. Ons behoort vir die samelewing hierin tot voorbeeld te wees.
————————————-OOOOOOOOOOOOOOOOOOO—————————————
Die boek “The Shack” is steeds no 1 op die NY Times Best Seller list . In die 2 jaar wat die boek op die mark is, is daar reeds meer as 5 million gedruk. Dit is indrukwekkend indien jy in gedagte hou dat Rick Warren se Purpose Driven Life 25 miljoen kopieë in 7 jaar verkoop het. Die vraag met beide van die boeke, indien jy objektief wil wees, is die boeke so goed of is die bemarking net uitstekend? Dit wil blyk dat laasgenoemde dalk eerder die geval is. Pyromarketing is die bemarkingstrategie wat Zondervan, die boekhuis, gebruik het. Die ruimte ontbreek om te verduidelik, gaan Google dit gerus. In kort – uiter effektiewe mond tot oor bemarking aan ‘n spesifieke tykenmark wat soos ‘n veldbrand versprei. Dit is ook nou die geval met The Shack.
Dalk net eers in kort waaroor die boek gaan. Die storie handel oor ‘n man, Mack, wat deur intense trauma gaan. Die tragedie bring hom jare later by die shack waar hy ‘n ervaring met God het. God openbaar Homself aan Mack as drie persone: ‘n swart Amerikaanse vrou (die Vader), ‘n Joodse skrynwerker (Jesus) en ‘n Asiatiese vrou (die Heilige Gees). Hy spandeer tyd saam met die drie en vrae dan verskeie vrae waarmee ons as mens worstel.
Die boek is fiksie, ‘n verhaal wat vertel word deur een mens wat ‘n besonderse ervaring met God gehad het. Dit is uiters subjektief en maak dit juis daarom moeilik om te beoordeel. In so ‘n subjektiewe ervaring wat baie gelowiges in ‘n mindere of meerdere mate van kan getuig, word tog nie alles oor God ervaar of beleef nie. Omdat dit subjektief is, bly dit steeds een mens se ervaring, geklee deur die persoon se totale menswees, wat in sy geval intense trauma insluit. Miskien is die belangrikste om te onthou, hy het na heling gaan soek, waarmee hy vir jare as gelowige geworstel het. Hy het heling gekry deur geloof, maar in genade. Sy boodskap aan my wat net dit betref moet nooit ophou soek nie. God sal jou vind.
Gee gerus jou mening, ons gesels weer.
“The Shack” 2
Ek raak twee gedagtes aan: Die Here wys vir Mack waar die oorskot van sy dogter lê jare na haar dood. Hulle gaan soek later die oorskot op grond van sy belewenis en hulle vind dit net soos dit in sy ontmoeting met die Here aan hom oorgedra is. Die vroeë kerk vertel van vele sulke geleenthede waar die liggame van martelare, wat jare vermis was, deur sulke visioene of openbarings aan die kerk uitgewys word. Ons rasionele denke verteer moeilik die misterie van God wat sekere dinge wat buite ons begrip lê aan ons openbaar. Die belangrikste bly egter steeds die Woord van God. Dit is die toetssteen en The Shack moet hierteen getoets word. In 2 Kor 12 vertel Paulus kortliks oor sy eie ervaring in die paradys waarheen hy weggeruk was. Daar het hy ook woorde gehoor wat hy eerder nie wil uitspreek nie 2 Kor 12:5.
Die ander gedagte wat ek ook by wil stilstaan is die gedagte van panenteisme. “God, who is the ground of all being, dwells in, around, and through all things….” –The Shack’s “Jesus.” (p.112) Panenteisme beteken dat God in alles is, maar alle is nie God nie. God bly die Almagtige wat bo alles verhewe is, tog vul Hy ook alles met Sy teenwoordigheid. Panteisme aan die ander kant glo dat alles God is. Die implikasie daarvan is dat alles aanbid kan word. Geloof in die Drie-enige God beteken dat ek God alleen aanbid. Iets hiervan hoor ons in Jesus se gebed Joh 17: 21Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. Gaan kyk ook na hierdie verse: 1 Kor 12:6 “….werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring.” ; Ef 1:23 “….is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” En Kol 3:11 “Hier is Christus alles en in almal. “
Het ek dan geen kritiek teen die boek nie? Wat is jou mening? Lees weer môre. Groete Johan.
The Shack 3
Die karakter van God wat deur die skrywer/verteller geskets word, is na my mening nie Bybels gefundeerd nie. Die geskiedenis van ons kerk het ongelukkig by baie in onguns verval. Die gevolg is dat ons dikwels as gelowiges ons eie subjektiewe verklarings vir God en hoe God Homself in die Woord openbaar, wil aanbied. Ek het nie so ‘n groot probleem dat God as vrou in die boek uitgebeeld word nie. My dilemma is die uitmekaar trek van die Drie-eenheid. Die vroeë kerk se belydenis was dat God een Wese is, drie Persone – Onverdeelbaar en onskeibaar. Jesus Christus is waarlik God en waarlik mens – Onverdeelbaar en onskeibaar. My bekommernis is dat Mack se verstaan van God mense se persepsie kan versterk dat daar drie gode in die hemel is, of dan twee, met die Heilige Gees wat in ons woon.
Terwyl die boek deels die misterie van God aanraak, wis dit ook die misterie van God uit. God word net te menslik, te goed, te inskiklik en te “verdraagsaam”. “I am not who you think I am, Mackenzie. I don’t need to punish people for sin. Sin is its own punishment, devouring you from the inside. It’s not my purpose to punish it; it’s my joy to cure it.” (p.120)??
Jesus se kruisdood vervaag ietwat in die verhaal: “Those who love me come from every system that exists. They were Buddhists or Mormons, Baptists or Muslims…. I have no desire to make them Christian, but I do want to join them in their transformation into sons and daughters of my Papa, into my brothers and sisters.” –The Shack’s “Jesus.” (1,p.182). Ek weet nie wat die skrywer hiermee bedoel nie. Dit kan verwarrend wees.
Ek kan verstaan dat gelowiges na die lees van die boek sê hulle is verward. Onthou, dis fiksie. Om enige boek te lees, is soos om vis te eet. Jy spoeg die grate uit. Party visse het meer grate as ander.
___________________________________000000_____________________________________
In die hande van die Pottebakker – Wees sagter klei wat al hoe meer meegee
Hier is ‘n nuwe boek wat ek nog nie gelees het nie. Het iemand dit al onder oë gehad? Laat weet gerus. Ek het die van die agterkant van die boek gekry
Die Here is lewenslank besig om ons te vorm. Ons is klei in die Omvormer se hande: Wat maak die klei hard – of sag? Elkeen van ons beweeg innerlik en word mooier – of leliker. Ons binnewêreld – die gewoontes van ons hart, die patrone van ons gedrag, ons leefwyse en verhoudings – kán mooier word. Die Pottebakker bevry ons en maak ons nuut, maar neem ons nie weg van ons ware self nie – Hy maak ons juis meer onsself, soos ons bedoel is om te wees. Die vraag is: Hoe kan ek sagter klei wees wat meer meegee? Leer uit die lewe; vertrou jou eie ervaring; word gevoeliger vir die geheimsinnige hand van die Here in jou lewe en stel jou op alle vlakke daaraan bloot.
’n Grensbeampte in Klein-Asië het telkens ’n man teëgekom wat met ’n swaar gelaaide donkie by die grenspos aankom. Op die vraag wat hy vervoer, antwoord hy: “Ek smokkel” Die beampte deursoek dan die sakke, maar kry niks. Dit hou jare lank só aan. Ná die beampte afgetree het, loop hy die man eendag weer raak. Hy vra hom toe reguit: “Sê my, het jy dan tog gesmokkel?”
“Ja,” antwoord die man. “Waarmee dan?” “Met donkies.”
Hierdie boek maak opnuut ’n geheim bekend wat so naby aan jou lê dat jy maklik daaroor loop sonder om dit raak te sien – in jou alledaagse lewe. Willem Nicol koppel heiliging verrassend aan persoonsontwikkeling en Emosionele Intelligensie.
WILLEM NICOL is ’n afgetrede leraar en gerekende kenner oor die Christelike mistiek. Hy skryf nuut oor die gelowige se lewensreis – met lig uit die wêreld van gebed en stil luister (kontemplatiewe spiritualiteit). Hy het reeds verskeie boeke gepubliseer oor stil luister uit die Skrif, met die jongste God praat – leef luisterryk (Bybel-Media). Sy bekroonde topverkoper Gebed van die hart (Lux Verbi.BM) was ’n baanbrekerboek wat gelowiges op grondvlak met Christelike stilword vertroud gemaak het.
_______——————————-00000000000OO0000000000—————————–_______
