Hierdie loodglaswerk van He-Qi is die Chinese uitbeelding van die geboorte van Jesus deur He Qi. Dit is in die Dushu Lake kerk, Suzhou (Singapoer).
Lukas 2:10-14 Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel ’n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy
In die donker van hierdie wêreld val ʼn Ster in die skoot van ʼn jong meisie. Die wêreld is gebroke – die meisie in pienk, suiwer en rein. Die gesiglose boodskapper sing die vreugdelied terwyl selfs die skepping verwonder kyk, deels na die Christuskind, deels na die boodskapper. Die vader se lantern wil graag lig werp op die gebeure. Hy is steeds verwonderd oor die vreemdheid in sy eie lewe. Die Ster se lig verlig egter selfs sy lantern se lig. Verwonderd staar die herders na die hemel, terwyl die Christus-kind reeds op aarde is. (Dalk ʼn vermaning aan ons wat so graag staar en soek na antwoorde, raad en leiding terwyl dit reeds hierby ons aanwesig is).
In Sy handjies hou Hy die vrug van Eden, ongeskonde. Hierdie keer sal dit nie deur die mens verorber word nie. Hy bring heling en herstel in die gebrokenheid. Sy lig verlig die duisternis. Daar is hoop, lig, lewe en liefde. Kyk Maria “die moeder van God” na my? Vra sy dalk van my om nie te begryp, maar aan te gryp!
Mag jy ʼn geseënde Kersfees beleef. Bly getrou met jou tyd van stilte ook deur die Kersseisoen.
