Die Chinese Christen kunstenaar He-Qi (uitgespreek Hoo-Chee) gebruik graag Chinese simboliek in sy kuns. Hy poog om daarmee die Christelike geloof op ʼn bevatlike manier vir sy Chinese leser bekend te stel. Hy moes destyds Mao Tse Tung teken http://en.wikipedia.org/wiki/Mao_Zedong . Hierdie sketse het oral Mao uitgebeeld en die Sosialisme verkondig. He-Qi kom egter op ʼn kopie van Raphael se Madonna en kind af en dit inspireer hom om Bybelse verhale op doek te begin vas lê. Mao het natuurlik self besef om jou boodskap aan landelike mense oor te dra, is stories die beste manier van doen. He-Qi, wat self onder die diktatuur gely het, erken egter dat dit ʼn briljante strategie was en pas dit dan ook toe op sy eie kuns en spesifiek sy moderne ikonografie.
In die 17de en 18de eeu was die missionêre strategie van sendelinge om die Christelike geloof in die Westerse moderne uitvindsels te verpak en daarmee saam rys aan die Chinese uit de deel. Hulle was van oortuiging dat die Westerse beskawing sou die Chinese aangryp om meer oor die geloof te wil leer. Die rys het hulle wel aangegryp, maar nie werklik die geloof nie. He-Qi poog om deur sy kuns van die foute uit die verlede te korrigeer.
In hierdie kunswerk van Jona, is die vis bv ʼn groot Chinese karp. Ons kan dalk meer begrip ontwikkel vir Afrika-kuns wat die Christus-kind saam met Josef en Maria as swart Afrikane uitbeeld. Met kuns kan ons dalk meer vermag as net ons kospakkies om geloof in mense se harte te vestig.
Terug by Jona en die vis:
Die matrose is besig om Jona te “offer”. Let op hoe vorm Jona en die skuit ʼn eenheid. Jona is hulle redding, want inderdaad kalmeer die see wanneer hy oorboord gegooi word. Hier is al klaar ʼn magdom teologiese waarhede ingebed in die kunswerk. Dink maar aan Jona as profesie vir Christus se koms na die wêreld: Hoe hy Homself gee en die Kerk, Sy liggaam, die skuit word wat deur die wêreld vaar om mense op te pik uit die see van chaos. Kyk hoe word God geskets: Hy omraam die gebeure. Hy is bewus van alles wat gebeur. Alles gebeur bykans binne Hom. Sy hand is die son. Die Skeppergod, Wie ons meen onbewus is van wat gebeur (Sy oë is toe,) se lig val oor die verhaal.
