Wanneer Jesus bid, slaap die dissipels (Luk 22:45). He-Qi vertel die verhaal op ʼn besondere manier. Jesus bid terwyl hulle slaap, maar hulle is tog ook deel van sy gebed. Let weer op hoe vloei die lyne van die figure in mekaar. Die dissipel op die voorgrond is deursigtig sodat Jesus in hom gesien kan word. Is dit Jesus se skaduwee wat oor almal val? Lukas vertel dat ʼn Engel gekom het om Hom te versterk. Dit sien ons in die lig wat oor Jesus val, maar ook oor die dissipels.
Matteus 26:36 e.v. vertel dat dit Petrus en die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, was wat saam met Hom gaan bid het. Hy sien egter hulle slaap en vermaan hulle om te bid dat hulle nie in versoeking kom nie. Was dit dalk die gebed wat Hy ook vir hulle en deur hulle gebid het omdat hulle nie meer kon nie? “Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.” Paulus leer ons dit in Romeine 8:26 “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.”
Jesus en die dissipels is kaalvoet. Hier is dus weer ʼn ontmoeting met die Vader. Jesus se oog is op ons gerig wat met die “teks” besig is. He-Qi, die skrywer van die ikon, vertel op ʼn besondere manier dat Christus van ons swakhede bewus is. Ons mislukkings, selfs wanneer ons Christus teleurstel, plaas ons nie buite Sy lig nie, dit neem Hom ook nie van ons weg nie. In teendeel, Hy bly steeds vir ons intree. Hy bly steeds die ontmoeting met die Vader bemiddel. Sy oog bly steeds op ons gerig.
Die ikon spreek van eenheid tussen die dissipels en Jesus. Die kerk is steeds een in haar gebrokenheid, maar Christus bly verbonde aan hierdie gebroke kerk op aarde. Mag dit vir jou in jou gebrokenheid ʼn troos wees dat Christus aanhou om vir jou intree. Dit is vir my die waarde van stilte, om te kan weet dat wanneer ek nie meer kan bid (of wil bid) nie, tree die Gees van Christus vir my in met woorde wat nie uitgespreek kan word nie.
