Ek lees ‘n aanhaling van die vroeë kerk, weet ongelukkig nie wie dit gesê het nie. Vry vertaal lei dit soos volg: “Lyding is ‘n integrale deel van die lewe. Dit is die draad van fyn aanvoeling vir die lewe wat in die menslike materiaal ingeweef word. Liefde vir God is die draad wat dit krag en uithouvermoë gee. Deur God lief te hê met ‘n suiwer hart en die intensiteit van vuur, sal ons die versoeking van wanhoop oorwin.”
Lyding gee my fyn aanvoeling vir die lewe!
Liefde vir God gee uithouvermoë midde in lyding!
‘n Suiwer hart wat in liefde op God gerig is, bewaar my van wanhoop!
Hoeveel van ons vra nie daagliks; “Wat is die sin van lyding?” nie. Ons wil dit vermy, ten alle koste. Tog is die God wat ons aanbid, nie ‘n triomferende God, soos wat ons Hom graag wil voorstel nie. (Ja, aan die einde van die tyd sal sy almag triomfantlik sigbaar wees). God het mens geword en kom ly. God ly elke dag wanneer Hy die geweld, rampspoed en menslike vergrype aanskou. God bly getrou aan Sy eie hoogste beginsel; onvoorwaardelike liede. Dit beteken mense kan bly kies. ‘n God van liefde kan nie net willens en wetens ingryp en mense tot ander insigte dwing nie.
Maar, sê die vroeë kerk, lyding gee my ‘n aanvoeling vir die sin van die lewe, lyding leer my onderskeidingsvermoë. Om in lyding staande te kan bly, vra egter ook ‘n suiwer hart wat ontvlam van liefde vir God. Dit gee uithou vermoë en bewaar my van wanhoop.
Kry jy vandag swaar, suiwer jou hart (nee, nie omdat dit noodwendig jou sonde is wat jou laat ly nie!) sodat jou liefde vir God weer kan ontbrand. Ontmoet vandag êrens die Beminde wat jou in Sy liefde wil toevou en troos. Kyk deur jou trane met deernis na ander wat ook ly, vir wie jy moontlik van hulp en betekenis kan wees, juis omdat jou Bruidegom jou vas hou.
Worstel jy met wanhoop? Kleef aan die kruis van Christus vas en leer ken die lydende God wat alle onreg, mishandeling en vergrype elke dag moet aanskou. Hoor hoe Hy na almal van ons roep om Sy wêreld in ‘n plek te omskep waar Sy liefde sigbaar word.
Mag die Here jou in hierdie dae dra. Jou Beminde het jou innig lief.

Ja God se liefde hou ons staande, al wil jy partykeer nie meer aangaan nie.