Twee sake in ons land maak my moerig: Die een is die dood van onderwyser Andries Tatane in Ficksburg. Die ander is die 15.3 miljoen mense wat s
osiale toelaes van die staat ontvang. Het die twee sake iets met mekaar te make? Ek dink so, dis beide simptome van ‘n baie siek regeringsisteem wat ons in ons land mee sit. Hy vertoon inderdaad kenmerke van die vorige apartheidsregering. Brutaliteit is een en onmenslikheid, wat daarmee saam gaan, die ander.
Om ‘n onskuldige persoon wat sy demokratiese reg uitoefen met soveel brutaliteit te behandel, spreek van ‘n verotte polisie en siek staatsbestel. Het ek dit mis, of gaan die dood van hierdie man ons weer, soos in die apartheidsdae, amper stil verby. Ons het ‘n traak-my-nie-agtige-houding. Dis ver, dis nie my mense nie!
Die meer as 15 miljoen mense wat deur die ANC regering gevoed word, is ‘n mooi klompie stemme wat reeds in die sakkie is. Indien ek meen ‘n party gaan dit van my wegneem – daardie geldjie wat elke maand getrou inkom, stem ek beslis nie vir ‘n ander party nie. “You don’t bite the hand that feeds you!” Die sosiale toekennings is vroom, armes moet gehelp word. Die vraag is, is dit die beste manier. Sonder om nou die gesprek na belegging in infrastruktuur te wil ophaal, is die antwoord in kort: Nee! Die regering kan ongelukkig nie sy gewete afkoop nie. Die grootskaalse bedrog in sy eie geledere getuig teen hom.
Waar laat dit ons, jou en my, die kerk? Victor Frankel het gesê dat wanneer ‘n mens apaties raak en nie meer teen onreg opstaan nie, is jy besig om jou eie menswaardigheid te verloor. Ek is bekommerd dat ek self in my eie wêreld met my eie dinge mee gesleur word en nie meer my deur die gebeure laat aanspreek nie. Is ek besig om my eie menswaardigheid te verloor?
Die eerste teken, mynsinsien, van apatie is mense wat sê hulle lees nie meer die koerant of luister/kyk nuus nie. Dis om in ontkenning te lewe. Ons, die kerk van Jesus Christus behoort alles in ons vermoë te doen om ons afkeer in die Ficksburg gebeure te laat hoor. Ons behoort daar saam met mense van alle groeperinge te betoog teen geweld en korrupsie. Ons behoort meer ons stem te voeg by die sonder ‘n stem.
Gelukkig het ons egter ook al geleer dat woorde sonder dade niks beteken nie. Dis die regering se styl. Daarom behoort ons, die kerk ook daar te wees waar ellende en armoede welig groei. Die Heilige Week waarin ons nou is, herinner my aan Jesus se radikale optrede tydens die laaste week op aarde. Dit het Maandag begin toe Hy die tafels in die tempel omgekeer het.

Ek stem saam, dit is hartseer wat in hierdie land gebeur. En meeste mense aanvaar dit maar net as hoe dit nou is.
Ek dink wel dat, eerder as om te begin betoog en baklei daarteen, moet ons die saak op ‘n ander manier aanspreek. Wees vocal maar nie aggressief. Jesus het wel kwaad geraak en aggressief maar dit was afsonderlike gevalle. By verre meeste van die tyd het Hy sake waarmee Hy nie saamgestem het nie aangespreek op ‘n rustige manier en uit liefde. Ons gaan nooit die geveg teen misdaad en korrupsie wen deur met geweld of aggressiewe houdings terug te baklei nie. Dit beteken nie dat ons passief moet wees nie, ‘n mens kan ferm wees sonder om aggressief te wees.
Ek lees lankal nie meer die koerante nie want dit is net moord en doodslag van voor tot agter. Ek is bewus van wat in die land aangaan en hou my nie blind daarvoor nie. Ek dink net as mens heeldag aan hierdie tipe van goed blootgestel word gaan jy so negatief word dat jy op die oomblik nie objektief sal kan dink nie. Koerante vertel stories wat verkoop. En ongelukkig is dit so dat ons mensdom net belangstel in dit wat sensasie skep. Hier in die weskaap kan die koerante byvoorbeeld konsentreer op al die goed wat Helen Zille die laaste jaar gedoen het. In stede konsentreer hulle op alles wat nie reggeloop het nie. Al hierdie negatiewe nuus gaan ‘n mense negatief en moedeloos maak. En ‘n positiewe ingesteldheid gaan baie meer bereiK as ‘n negatiewe ingesteldheid.
Korliks, volg die voorbeeld van Jesus. En dit is beslis nie ‘n geweldadige voorbeeld nie, maar ‘n liefdevolle een.